AfriForum red Germiston van rioolstank
Die reuk van riool wat oor Tedstoneville, Elsburg en Elspark gehang het, is nou danksy AfriForum se Germiston-tak, iets van die verlede. Dit volg nadat die tak in samewerking met die Ekurhuleni-metro ingegryp het om die rioolstortingsterrein in Lower Boksburgweg naby Delmorepark professioneel te laat skoonmaak.
AfriForum se Germiston-tak en -buurtwag het onlangs verskeie klagtes oor die stank ontvang en nadat ondersoek ingestel is, is bevind dat die nabygeleë goedgekeurde rioolstortingsterrein nie na wense bestuur word nie en dat toegangsbeheer en sekuriteit wat die Ekurhuleni-metro hier moet hanteer, ontbreek.

’n Soortgelyke situasie het inwoners in gedeeltes van Germiston ook in 2020 raadop gehad. In daardie stadium het die metro ingetree en sekuriteit aangestel om toe te sien dat kontrakteurs wat die terrein gebruik, die voorgeskrewe reëls vir die storting van riool, afkomstig van verskeie informele nedersettings in Boksburg en Germiston, nakom. Dié ingryping het die verantwoordelike storting en opruiming verseker, maar toegangsbeheer en bestuur van die terrein het sedertdien weer, tot groot frustrasie van inwoners in die omliggende woonbuurte, agterweë gebly.
Met die hulp van die privaat diensverskaffer Express Toilet Hire, het die Germiston-tak die terrein verlede week laat skoonmaak. Weeklikse skoonmaakaksies sal nou hier voortgesit word en ander kontrakteurs sal ook betrek word om die omliggende terrein skoon te maak.

AfriForum het intussen verlede Woensdag ook met die metro in gesprek getree en aangedring op die herinstelling van voldoende sekuriteit- en toegangsbeheer op die terrein. In reaksie op dié gesprekke is sekuriteit en toegangsbeheer weer sedert afgelope Vrydag hervat.
Volgens Elzabé Pretorius, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak, het die ingryping van die tak en die betrokkenheid van Express Toilet Hire dié vrotspul in ’n suksesverhaal omskep.
“Hierdie aksie bevestig die kritieke waarde van goeie samewerking tussen die gemeenskap en plaaslike ondernemings. AfriForum sal nou voortgaan om die situasie te moniteer en toe te sien dat die metro hul verantwoordelikheid nakom,” sluit Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand af.
Raak vandag nog betrokke by jou naaste AfriForum-tak en maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



