AfriForum stel jongste vakansieveiligheidsgids bekend om gesinne teen seisoenale misdaad te beskerm
AfriForum het vandag sy jongste gids met omvattende wenke bekendgestel wat Suid-Afrikaners sal help om hulself en hul geliefdes tydens die Desember-en-Januarie-feestyd te beveilig. Gedurende hierdie vakansietydperk neem misdaad jaarliks toe en raak gemeenskappe toenemend kwesbaar.
Die gids bevat praktiese wenke en duidelike riglyne oor verskillende scenario’s met betrekking tot veiligheid en fokus spesifiek op die uitdagings wat gesinne jaarliks tydens die vakansie in die gesig staar.
“Misdadigers gaan nie met vakansie nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Elke jaar sien ons ’n skerp styging in huisbrake, kapings, plaasaanvalle en ander misdaad gedurende die feestyd. Hierdie gids is ontwikkel om gesinne in staat te stel om ingelig, paraat en voorbereid te wees sodat hulle hul vakansie kan geniet sonder om hul veiligheid te kompromitteer.”
Die gids sluit onder meer die volgende in: Praktiese wenke vir motoriste oor wat om te doen wanneer jy afgetrek word, asook jou regte tydens padblokkades en -kontroles; riglyne om jou huis te beveilig wanneer jy weggaan of tuisbly; belangrike inligting oor kinderveiligheid, insluitend hoe om ontvoeringsrisiko’s te beperk; riglyne vir plaasveiligheid, waar gesinne dikwels geïsoleerd en kwesbaar is; wenke oor hoe om ysterpenlokvalle te hanteer, wat steeds op Suid-Afrikaanse snelweë voorkom; en algemene raad oor persoonlike veiligheid, insluitend hoe om jou intuïsie en situasie-bewustheid te versterk.
AfriForum moedig die publiek aan om die gids te gebruik as deel van ’n gesamentlike poging om gemeenskappe veiliger te maak deur paraatheid, samewerking en proaktiewe optrede.
Die volledige gids is gratis beskikbaar.
“Hoe meer ingelig ons gemeenskappe is, hoe moeiliker word dit vir misdadigers om suksesvol toe te slaan. Ons doen ’n beroep op almal om hierdie gids wyd en syd te deel en mekaar te help beskerm. Veiligheid is ’n spanpoging,” sluit Broodryk af.
- Laai die gids hier af.



