AfriForum eis dringende antwoorde van Gauteng-onderwysdepartement oor wanfunksionele plasingstelsel
AfriForum doen ’n dringende beroep op Matome Chiloane, die LUR vir Onderwys in Gauteng, om ’n volledige en deursigtige vorderingsverslag oor alle plasings vir die 2026-skooljaar voor die einde van die week aan die organisasie en alle skole beskikbaar te stel. Dit volg ná die voortgesette wanfunksionering van die Gautengse departement van Onderwys se aanlyn stelsel vir skoleplasings in dié provinsie. Hierdie kommer spruit voort uit klagtes van talle bekommerde ouers wie se kinders steeds nie volgende jaar vir gr 1- en 8 geplaas is nie.
In ’n tweede prokureursbrief wat AfriForum vandag (1 Desember) aan Chiloane gerig het, eis die organisasie verder dat die Gauteng-onderwysdepartement ’n omvattende plan publiseer om die stelsel permanent te stabiliseer.
Die burgerregteorganisasie het al op 3 November ’n prokureursbrief aan Chiloane gestuur waarin daar bepaalde antwoorde geëis is oor die probleem rakende skoleplasings wat toe al aan die lig gekom het. Hy het die brief beantwoord met gerusstellings dat daar nie rede tot kommer is nie en dat die plasings teen einde November suksesvol afgehandel sal wees.
Intussen sou Chiloane tydens ’n mediakonferensie op 30 November terugvoer gee oor die skoleplasings maar dit is op kort kennisgewing sonder enige duidelike rede gekanselleer. In AfriForum se prokureursbrief word Chiloane versoek om onmiddellik te verduidelik waarom hierdie konferensie nie voortgegaan het nie.
Met slegs twee weke oor voordat skole vir die Desember-vakansie sluit en met heelwat kinders wat nog nie in skole geplaas is nie, waarsku AfriForum dat voorbereiding vir die 2026-akademiese jaar drasties kan ontspoor.
“Die feit dat die Gauteng-onderwysdepartement geen kommunikasie of ondersteuning aan ouers bied wie se kinders nog nie geplaas is nie óf verkeerdelik geplaas is, is onaanvaarbaar. Duisende gesinne is afhanklik van ’n stelsel wat weereens gefaal het. Ouers is radeloos terwyl die departement die probleem ontken,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.
Verder het AfriForum van bewerings verneem dat die werklike rede vir die stelsel se wanfunksionering moontlik aan uitstaande betalings aan die diensverskaffer gekoppel is. Die organisasie se prokureursbrief eis dus ook dat die departement bewys lewer dat die diensverskaffer volgens kontrak betaal is. Indien die gerugte waar is, is dit ’n ernstige versuim wat ’n direkte bedreiging vir onderwysstabiliteit in Gauteng inhou. “AfriForum se mandaat is duidelik: ons moet optree om die belange van ouers, leerders en skole te beskerm,” voeg Bloem by.
Die Gauteng-onderwysdepartement het tot 2 Desember om op AfriForum se versoeke te reageer. Indien geen reaksie ontvang word nie, sal AfriForum regstappe oorweeg.



