Aandag alle jonges: Akademia lê die boublokke van jóú toekomssukes neer
Dit is vir die meeste skoolverlaters ’n angswekkende ervaring om ’n naskoolse studierigting te kies, maar die besluit oor watse hoëronderwysinstelling om dié studie by voort te sit, behoort nie ’n ingewikkelde een te wees nie. Akademia, ’n Christelike onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, bied vanjaar weer ope dae aan voornemende studente wat opsoek is na ’n instelling wat hom daarop toespits om die boublokke van hul toekomssukses neer te lê.
Akademia bied vanjaar sy ope dag in die Paarl aan by dié instelling se splinternuwe kampus in Bredastraat in Esterville. Op 20 en 21 Maart gaan individue die unieke geleentheid hê om ’n ware ervaring van studentwees te kry, nog voordat hulle self ’n student is.
“Die ope dag is nie net ’n vertoonvenster van wat Akademia bied nie, maar ’n geïntegreerde belewenis van Akademia se denke én hart,” sê Lizán Maree, Akademia se bemarkingsbestuurder.
Vanjaar se ope dag vir die Pretoria-kampus vind op 24, 25 en 27 April plaas. Die ope dae word op Akademia se persele aangebied sodat besoekers ’n gevoel van die kampuservaring kan kry. Die inligtingsessies oor studieprogramme word in lesinglokale deur die studieprogram se dosente aangebied, wat vir besoekers ’n ware gevoel gee van hoe dit gaan wees om klas op kampus te draf.
“Soveel studente getuig daarvan dat die ope dag die finale beslissende faktor in hul besluitnemingsproses was. Dit is veral belangrik vir matrikulante om vroeg reeds ’n besluit oor hul studietoekoms te neem, voordat die druk van eksamens dié belangrike besluit bemoeilik,” sê Maree.
Akademia bied ’n verskeidenheid programme vanuit vyf fakulteite waarvan voornemende studente kan kies. Tydens die ope dae, sal voornemende studente en hul ouers die dosente kan ontmoet en eerstehands vanaf huidige studente hoor oor húl Fontie-ervaring.
Studente wat aan Akademia studeer, word Fonties genoem. Dié eienaam is afgelei van die instelling se leuse, Ad futurum, per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Besoekers kan uitsien na talle inligtingstalletjies, wat ’n voorskou van die instelling se koshuislewe, georganiseerde studentelewe en ondersteuningsdienste sal bied. Die ope dae bied ook aan besoekers toegang tot kundige personeel wat kwelvrae oor die finansiering van studie, afbetalingsopsies en studierigtings kan antwoord.
“By Akademia is studentwees soveel méér as net jou studie en is jy nie net nóg ’n studentenommer nie. Dit is ’n plek waar jy sinvolle gesprekke kan voer, lewenslange vriendskappe kan smee en waar jy roepingsgedrewe die toekoms tegemoetstap,” sluit Maree af.
Besoek www.akademia.ac.za/kampusopedag-2026/ om vandag nóg jou plek by die opedag te bespreek.



