|

AfriForum se Standerton-tak help waternood verlig; fokus op praktiese hulp

AfriForum se Standerton-tak het gedurende Julie op verskeie maniere praktiese hulp aan die gemeenskap gebied, onder meer deur 25 000 liter water tydens wateronderbrekings te versprei, inwoners tydens brande by te staan en infrastruktuur en openbare ruimtes in die dorp te help onderhou.

Die tak het tydens die onlangse wateronderbrekings in die dorp 5 000 liter water aan Kromdraai Kennels verskaf, terwyl ’n verdere 20 000 liter water aan inwoners van Kosmos en Florapark versprei is.

Lede van AfriForum se Standerton-buurtwag het ook bystand verleen tydens verskeie brande in die omgewing. Een van die brande het in ’n erf in Meyerville ontstaan. Die buurtspan het verder in samewerking met die Lekwa PFA met voorbrande in die omgewing gehelp.

Die buurtwag het ook ’n gestrande toerbus met ’n sleepwa by die Junxion-sentrum bygestaan. Lede het die bestuurder gehelp nadat hulle opgemerk het dat die sleepwa se as geskuif het. Hulle het die sleepwa help oplig om die as reg te posisioneer en weer vas te maak.

Lede van die buurtwag het, buiten hul hulpverleningsprojekte, ook ander projekte aangepak om die dorp se openbare ruimtes te verbeter. ’n Skoonmaakprojek is rondom die Junxion-sentrum aangepak, terwyl ’n grassnyprojek in Dr. Nelson Mandelastraat en by die Voetsporte-monument, wat deur AfriForum onderhou word, geloods is.

Die tak het verder in Julie vier stoptekens vervang. Twee is by die kruising van Kieser- en Charl Cilliersstraat vervang, een teken by die kruising op Kieser- en Kerkstraat en die vierde by- die kruising op Beyers Naude- en Geelhoutstraat.

“AfriForum se Standerton-tak wil prakties betrokke wees waar daar ’n behoefte in die gemeenskap is – veral waar dienste wat deur die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit gelewer word, agteruitgaan. Ons wil nie net probleme identifiseer nie, maar waar moontlik help om ’n verskil te maak,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Sluit aan en ondersteun AfriForum se Standerton-tak. Besoek: www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf