Semi-Soet – die musiekblyspel eersdaags by Montecasino se Teatro te sien
Ná ’n uiters suksesvolle speelvak by AfriForum Teater in 2025, maak die AfriForum en Inhoud Huis Musiek produksie Semi-Soet – die musiekblyspel hierdie September sy verskyning op een van Suid-Afrika se grootste verhoë: die Teatro by Montecasino. Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander keer boonop terug as JP en Jaci.
Die geliefde musiekblyspel, gebaseer op die gewilde Suid-Afrikaanse rolprent Semi-Soet, het gehore by AfriForum Teater met humor, romanse en bekende Afrikaanse musiek bekoor. Nou keer die produksie terug in ’n uitgebreide nuwe speelvak wat spesiaal vir die Teatro se verhoog aangepas is – van nuwe kreatiewe elemente tot groter visuele beelde.
Met ’n rolverdeling van bekende teater- en musiekname, energieke choreografie, ’n oorspronklike verwerking en ’n produksiespan wat reeds verskeie toekennings en nominasies ontvang het, bou hierdie nuwe speelvak voort op die sterk grondslag wat by AfriForum Teater gelê is en neem dit die produksie na ’n volgende opwindende fase.
Volgens Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater, is die skuif na die Teatro ’n betekenisvolle nuwe hoofstuk vir die produksie en vir Afrikaanse musiekteater. “Die reaksie op Semi-Soet – die musiekblyspel by AfriForum Teater was ongelooflik bemoedigend en het bevestig dat die storie sterk by gehore aanklank vind. Die Teatro bied nou aan ons die geleentheid om op daardie sukses voort te bou en die produksie op ’n groter skaal aan te bied, sonder om iets van die hart, humor of sjarme te verloor wat dit in die eerste plek so geliefd gemaak het.”


Anel Alexander, wat in die rolprent én die musiekblyspel die rol van Jaci van Jaarsveld vertolk het, sê: “In my 25 jaar as ’n aktrise het ek nog nooit soveel pret gehad op ’n verhoog soos tydens Semi-Soet – die musiekblyspel nie en ek weet die gehoor kon dit aanvoel! Mense het van begin tot einde gelag en is dit nie presies wat teater veronderstel is om te doen nie? ’n Blaaskans van ons stresvolle lewens te wees nie? ’n Oomblik waar jy saam met jou vriende en familie kan saamkom en só kan lag dat jy huil. Semi-Soet – die musiekblyspel vat alles wat jy gehou het van die film en maak dit beter met treffende musiek deur Johan Voster en Jacomien de Wet en die briljante vertolking van jou gunsteling karakters deur ’n hele nuwe generasie akteurs. Jy gaan spyt wees as jy dit mis!”
Inhoud Huis Musiek meen: “Ons is baie geseënd om saam met AfriForum hierdie ikoniese produksie na ’n groter gehoor te neem.”
Die produksie volg die geliefde verhaal van Jaci en JP – twee mense wat voorgee om die perfekte paartjie te wees, net om te ontdek dat liefde soms op die mees onverwagse plekke wag. Met humor, hart en ’n klankbaan vol bekende treffers, het Semi-Soet – die musiekblyspel reeds sy plek as een van die gewildste nuwe Afrikaanse musiekblyspele gevestig.
Die oorspronklike speelvak by AfriForum Teater het verskeie erkennings ontvang, insluitend nominasies vir onder andere tegniese ontwerp, spel en beste produksie in die kategorie musiekblyspel by die Naledi-toekennings.
Die besonderhede oor die nuwe speelvak is as volg:
Datum: 4 – 20 September 2026
Plek: Teatro by Montecasino
Kaartjies: www.semisoetmusiekblyspel.co.za



