AfriForum se Kaapstad-Noord-opleidingsessie versterk gemeenskapsveiligheid
AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 7 Maart ’n suksesvolle opleidingsessie aangebied waaraan buurtwagte en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) deelgeneem het. In totaal het 60 persone die sessie bygewoon. Die opleiding het waardevolle insig en praktiese kennis gebied aan deelnemers gebied.
Die goeie samewerking en aktiewe deelname tydens die sessie, asook die talle vrae en terugvoer van lede, het duidelik gewys dat almal na dieselfde doel streef: om ’n veiliger en meer weerbare gemeenskap te bou.
Verskeie deelnemers het aangedui dat die opleiding vir hulle nuwe perspektiewe gebied het oor belangrike aspekte van gemeenskapsveiligheid en dat hulle kennis opgedoen het wat in hul onderskeie buurtwagte toegepas kan word.
“’n Selfstandige gemeenskap word gebou deur mense wat bereid is om self op te staan, saam te werk en verantwoordelikheid vir hul omgewing te neem. Wanneer inwoners hande vat, mekaar ondersteun en aktief betrokke raak by die oplossing van plaaslike uitdagings, word ’n gemeenskap nie net sterker nie, maar ook meer weerbaar. Deur samewerking, toewyding en volgehoue betrokkenheid kan gemeenskappe hoop skep, probleme oorkom en saam ’n beter en veiliger toekoms bou,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture in die suidstreek.
Die betrokkenheid en opoffering van vrywilligers bly ’n kernpilaar van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsprojekte. Deur samewerking en volgehoue opleiding kan gemeenskappe sterker staan en saam werk om ’n veiliger toekoms vir almal te verseker.
Om betrokke te raak by AfriForum se takstrukture in Kaapstad-Noord, besoek Sluit-aan.afriforum.co.za.



