AfriForum se hofsaak teen NGV nou belangriker as ooit ná Konstitusionele Hof se uitspraak
Die burgerregteorganisasie AfriForum het kennis geneem van die Konstitusionele Hof se beslissing vandag om die aansoeke van die Raad van Gesondheidsorgbefondsers en die premier van die Wes-Kaap van die hand te wys. Dié aansoeke het die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies se openbaredeelnameprosesse rakende die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op prosedurele gronde betwis. AfriForum se eie hofsaak, wat nie die NGV-wet op hierdie gronde betwis nie, sal steeds in die Pretoriase Hooggeregshof voortgaan en is nou belangriker as ooit.
Hoewel dit verkieslik sou wees dat die NGV-wet reeds nou ongeldig verklaar is, is AfriForum vol vertroue dat die wetgewing uiteindelik op grond van die inhoudelike besware daarteen in die hof omvergewerp sal word. Verskeie ander partye, waaronder AfriForum, het reeds hofverrigtinge ingestel waarin die grondwetlikheid van die NGV-wet betwis word. Anders as die prosedurele uitdagings waaroor die Konstitusionele Hof reeds beslis het, betwis AfriForum se hofsaak die grondwetlikheid van die inhoud van die wet op verskeie gronde. Hierdie hofsaak is gevolglik nou belangriker as ooit. Hofstukke is in Februarie 2026 ingedien en AfriForum wag tans op die verweerders om hul antwoord op AfriForum se eis in te dien.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, beteken hierdie uitspraak dat burgers langer sal moet wag vir ’n finale uitkoms in die stryd om NGV omver te werp, maar dit verander niks aan die wet se wesenlike tekortkominge nie. “Die skema bly onbekostigbaar, onuitvoerbaar en onredelik. Jy kan nie sommige mense se bestaande toegang tot private gesondheidsorg beperk om die illusie van toegang vir almal te skep nie. AfriForum glo vas dat sy beginselbesware steeds geldig is.”
AfriForum se regsgeding fokus onder meer op:
- die afwatering van provinsiale regerings se grondwetlike bevoegdhede ten opsigte van gesondheidsorg;
- die beperking van pasiënte se vryheid op keuse;
- die beperking van gesondheidspraktisyns se kliniese onafhanklikheid;
- die gebrek aan rasionaliteit van die NGV-raamwerk weens die ekonomiese onuitvoerbaarheid daarvan; en
- die skending van persone se fundamentele regte op verskeie wyses.
NGV is nie die oplossing vir Suid-Afrika se gesondheidsorguitdagings nie. AfriForum sal voortgaan met sy hofgeding om die wet ongrondwetlik te laat verklaar en sal enige verdere pogings om dit in werking te stel, noukeurig monitor. Daar moet eerder werkbare en grondwetlike alternatiewe nagestreef word.



