|

AfriFees ná 19 feeste nog net so gewild onder oud én jonk

Twee jaar ná die eerste AfriForum AfriFees in 2024 gehou is, is hierdie feesformaat nog net so gewild soos daardie eerste keer in Bela-Bela. Sedertdien het 18 feeste in Gauteng, Vrystaat, Noord-, Oos- en Wes-Kaap en selfs Namibië gevolg waar gehore uit volle bors saamgesing het met gewilde Afrikaanse treffers soos “Sarie Marais”, “De la Rey” en “Byeboerwa”.

Minique Valverde-Scott, hoof van Projekte by AfriForum, verduidelik wat die AfriFees is en hoekom dit so gewild is. “Dit is ’n Afrikaanse belewenis soos nog nooit tevore nie. Terugsit en luister is net nie in hierdie fees se DNS nie. Dit is ’n interaktiewe ervaring van saamsing, heupe swaai en die Afrikaanse taal voluit vier.”

AfriForum, in samewerking met Johan Vorster, Jacomien de Wet en Snyman Musiek Produksies, het die inhoud van AfriFees saamgestel om ’n gesinsvriendelike platform te skep wat bydra tot die behoud van Afrikaans en Afrikaanse kinders met trots hul kultuur laat uitleef. Dit is boonop die ideale fondsinsamelingsprojek vir veral skole. Elke fees bestaan uit 12 keurspelitems wat die gehoor van toeka tot nou vir omtrent 2,5 uur op reis neem.

Die Broers – bestaande uit Nic Stevens, Christo en Cobus Snyman – maak gewoonlik die musiek, maar ander bekendes insluitend Pieter Smith, Riaan van Rensburg en Elizma Theron het ook al by AfriFeeste opgetree.

“AfriFees is veral gewild by skole, maar dit kan by enige geleentheid aangebied word. Dié fees gaan orals,” sê Valverde-Scott.

Terugsit en luister is nie in die DNS van die AfriFees nie.

Hoe werk dit?

Die kunstenaars se kostes vir die optrede beloop omtrent R23 000, terwyl reis-en-verblyfkoste nagenoeg R16 000 beloop en alle tegniese aspekte vir die aanbied van dié fees sowat R16 000 kos. Die totale koste van die pakket beloop dus net nagenoeg R55 000. AfriForum hanteer deur sy kaartjieverkopeplatform, www.kaartjies.co.za, die kaartjieverkope en dra sodoende die las van dié administratiewe taak. Kaartjies se voorgestelde pryse beloop R180 per volwassene en R50 per kind, maar Valverde-Scott sê hierdie pryse kan aangepas word na gelang van die skool of instelling se behoeftes.

Om ’n AfriFees te bespreek stuur ’n e-pos na bespreek@afrifees.co.za.

Nog nie oortuig nie? Hoor wat sê die feesgangers self:

“Dit was ’n groot voorreg om saam met ’n uiters ondersteunende en bekwame span van AfriForum te kon werk om van hierdie fondsinsameling ’n wonderlike sukses te maak. Die konsert was hope pret en oud én jonk kon hulle gate uit geniet! Ons sal beslis weer van hierdie geleentheid gebruik maak,” sê Marlese den Haan, adjunkhoof vir Kultuur en departementshoof vir Uitvoerende kunste by Hoërskool Bellville.

“Baie dankie vir die besonderse inisiatief wat AfriForum doen vir Afrikaans! Dra Hoërskool Hartswater se dank oor aan die organisasie. Hoop ons kan weer so iets organiseer,” sê Willie van Heerden, hoof van Hoërskool Hartswater.

AfriFees kom nie na my dorp toe nie, wat nou?

Daar is nog goeie nuus. Vorster, De Wet en Heide van der Merwe was betrokke by die stemopnames van die AfriFees-album wat tans op Spotify, Apple Play Music en ander aanlyn musiekplatforms beskikbaar is. So selfs as jy nie in persoon by ’n AfriFees kan uitkom nie, kan jy steeds die musiek op daardie eg Afrikaanse wyse aflaai en geniet.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners