| |

AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsentrum help misdaad in Bloemfontein bekamp

AfriForum se Bloemfonteinse Gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) het gedurende Januarie gemiddeld drie keer per dag (altesaam 95 keer) reaksievoertuie in die Bloemfontein-omgewing ontbied om op noodgevalle en voorvalle van misdadigheid te reageer. Hiertydens is daar op vier brande, een geval van diefstal en 11 motorongelukke gereageer, asook agt inhegtenisnemings uitgevoer en vier verdagte persone of voertuie gerapporteer.

Die GVS werk deurlopend saam met die AfriForum911-reaksie-eenheid, plaaslike AfriForum-buurtwagte en ander veiligheidsrolspelers om uiteenlopende operasionele voorvalle te hanteer.

Die statistiek toon dat direkte kommunikasie met die gemeenskap voortdurend ’n behoefte van inwoners bly. Die GVS het altesaam 86 klagtes oor WhatsApp ontvang en 25 telefoniese klagtes hanteer. Die spanne se patrollies het ook ’n belangrike rol in sigbare misdaadvoorkoming gespeel. AfriForum-buurtwagte het deur die maand agt patrollies deur woonbuurte gery, die AfriForum911-reaksie-eenheid het 36 patrollies gery en 11 gesamentlike patrollies gedoen.

“AfriForum se operasionele statistiek in Bloemfontein is ’n bewys dat georganiseerde gemeenskapsveiligheid in samewerking met verskeie rolspelers, ’n tasbare en meetbare verskil in die bekamping van misdaad maak,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

“Hierdie noue samewerking en daaropvolgende suksesse versterk geïntegreerde reaksietye, verbeter die vloei van inligting tussen rolspelers en dra daadwerklik by tot verhoogde veiligheid in woonbuurte.”

AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsnetwerk in Bloemfontein uit te brei, vrywilligers op te lei en samewerking met rolspelers te verdiep om gemeenskappe veiliger te maak.

AfriForum doen ’n beroep op inwoners om aktief betrokke te bly by hul plaaslike buurtwagte en om misdaad en verdagte aktiwiteite betyds aan te meld, aangesien samewerking tussen gemeenskap en veiligheidstrukture die sleutel bly tot volhoubare veiligheid.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid