AfriForum dagvaar Ramaphosa en Motsoaledi oor NGV-wet
Deur Megan Swart
AfriForum se regsaksie teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het vandag amptelik afgeskop en sal onder meer toesien dat president Cyril Ramaphosa en dr. Aaron Motsoaledi, minister van Gesondheid, in die getuiebank sal moet sit om te verduidelik waarom dié omstrede wet onderteken is.
“Die ANC het reeds oorgenoeg bewyse ontvang dat NGV nie landsburgers se gesondheidsorg sal verbeter nie, maar hulle bly weens ideologiese redes daaraan kleef. Dít is waarom AfriForum dit nie kan laat voortgaan nie,” sê Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge.
Die burgerregteorganisasie het vandag ’n dagvaarding laat beteken op Ramaphosa en Motsoaledi sowel as Enoch Godongwana, minister van Finansies, Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering, en Refilwe Mtsweni-Tsipane, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Dié dagvaarding is die jongste in ’n string regsaksies deur ander instellings teen die NGV-wet.
AfriForum se regsaksie berus op verskeie punte wat daarop wys dat die NGV-wet in stryd met die Grondwet is. Wian Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger in die saak, sê een van die belangrikste punte is die feit dat dié wet ’n direkte bedreiging vir menseregte inhou.
“Dié bedreiging moet in die konteks van jare lange swak diens in die openbare gesondheidsektor gesien word. Die wet dring byvoorbeeld daarop aan dat pasiënte gebruik maak van medici binne die NGV-netwerk, wat inbraak maak op landsburgers se vryheid van keuse,” sê Spies.
“Die wet bedreig verder die reg op lewe (artikel 11 van die Grondwet); die reg op menswaardigheid (artikel 10 van die Grondwet); die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste (artikel 27 van die Grondwet); en die reg op handel, okkupasie en professie (artikel 22 van die Grondwet).”
Gegewe die huidige politieke en ekonomiese klimaat, hou AfriForum vol dat die wet onwerkbaar is en dat landsburgers uiteindelik ’n veel hoër prys sal betaal as die blote randwaarde gekoppel aan die implementering daarvan.
As deel van AfriForum se aksieproses – eerder as ’n aansoekproses – sal die burgerregteorganisasie die geleentheid vir kruisondervraging van diegene aan die voortou van die NGV-wet hê. Hiermee saam sal deskundiges getuienis in die hof kan lewer om die werkbaarheid van NGV te dispuut.



