Riool
| | |

AfriForum bereik skikking met Ephraim Mogale-munisipaliteit oor Marble Hall-rioolbesoedeling

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum het gister in die Hooggeregshof in Polokwane ’n skikking bereik met die Ephraim Mogale Plaaslike Munisipaliteit rakende die jare lange rioolbesoedeling by die Marble Hall-rioolsuiweringsaanleg wat ook die Olifantsrivier besoedel. AfriForum het reeds twee jaar gelede aansoek gedoen om ’n strukturele interdik te bekom. Kragtens dié skikking mag AfriForum nou toegang tot die aanleg verkry om onder meer inspeksies deur ’n onafhanklike deskundige te laat onderneem. Die burgerregteorganisasie mag hiervolgens ook ’n deskundige verslag laat opstel om die omvang, oorsake en gevolge van die besoedeling te bepaal.

Die skikking is deur ’n hofbevel bekragtig. Dit sal verseker dat die ooreengekome stappe en tydraamwerke afdwingbaar is en dat die saak op ’n duidelike en gestruktureerde wyse kan voortgaan.

AfriForum se aansoek om ’n strukturele interdik bestaan uit twee dele, waarvan die eerste fokus op die ondersoek na die redes vir en die omvang van die besoedeling, terwyl die tweede deel daarop gemik is om die bevindinge van die eerste te laat implementeer.  

“Dit is betreurenswaardig dat dit die munisipaliteit twee jaar geneem het om ’n skikking te bereik, terwyl die besoedeling onverpoosd voortduur. Vinniger optrede sou gehelp het om die munisipaliteit se riooluitdagings op te los. Intussen is die infrastruktuur by dié rioolsuiweringsaanleg in ’n powere toestand. Hierdie skikking bied egter nou aan AfriForum die geleentheid om ’n daadwerklike verbetering te weeg te bring en die besoedeling te beëindig,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

AfriForum hou vol dat aanspreeklikheid en wettige bestuur noodsaaklik is om gemeenskappe en die omgewing teen voortgesette rioolbesoedeling te beskerm. AfriForum sal voortgaan met die res van sy aansoek.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf