AfriForum-buurtspan knap Vryburg-konsentrasiekampbegraafplaas op ter nagedagtenis aan nagenoeg 300 wat hier sterf
Deur Ilze Nieuwoudt
Die dood van nagenoeg 34 000 vroue en kinders in en op pad na die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) is ’n hoofstuk in die Afrikaner se geskiedenis wat vandag nog met rou emosie en soms bitterheid herroep word. Die implementering van die verskroeideaardebeleid, waartydens Boere se plase, oeste en huise vernietig en afgebrand is, het aanleiding gegee tot die gevangeneming van duisende Boere en die vestiging van meer as 45 konsentrasiekampe vir Boere in die destydse Kaapkolonie, Transvaal, Vrystaat en Natal.

Die konsentrasiekampbegraafplase het meestal behoue gebly, of is minstens later jare in gedenkterreine omskep. Een van dié begraafplase is geleë in die hartjie van die Noordwes-provinsie se geharde beeswêreld, Vryburg – ’n dorp wat in die tyd van die oorlog in die Kaapkolonie gelê het en volgens historici ’n “groot rebellesentrum” was. (Kaapse burgers hul wat tydens die oorlog aan Boerekant geskaar het, is as rebelle gebrandmerk.)
Vandag, meer as 124 jaar sedert die laaste mense die Vryburg-kamp ná die oorlog teen die einde van 1902 verlaat het, staan die kampbegraafplaasterrein nog as bewys van die bittere stryd wat tussen Boer en Brit gewoed het en wat in dié kamp tot die dood van minstens 264 mans, vroue en kinders gelei het (sommige bronne reken die sterftetal in dié kamp moet op tussen 279 en 286 gereken word).
Volgens Jp Nel, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland, is die terrein ’n belangrike historiese baken in Vryburg. Juis daarom het die burgerregteorganisasie jare gelede reeds die instandhouding van die konsentrasiekampbegraafplaas geprioritiseer.
AfriForum se Vryburg-buurtspan het onlangs weer dié terrein skoongesny. “Ons buurtspan, met Felix Tshweu as permanente werknemer, fokus veral op skoonmaakprojekte in Vryburg. Die instandhouding van die konsentrasiekampterrein lê ons na aan die hart en is ’n manier waarop ons vandag nog op ’n tasbare wyse eer kan betoon aan die bykans 300 mense wat gedurende die oorlog in hierdie kamp gesterf het,” verduidelik Nel.
Ná die oorlog het generaal Koos de la Rey – die man bekend as die Leeu van die Wes-Transvaal – verklaar dat daar “ná die oorlog gepraat is van samewerking, vergeet en vergewe”. Hy gaan voort en sê: “Samewerking lê op die weg van die mens en vergeef lê op die weg van God. Maar, vergeet, nee, nooit solank ek leef.”

Hierdie “onthou” word vandag nog oorgedra aan elke generasie, verduidelik Nel. “AfriForum se deurlopende betrokkenheid by die instandhouding en opruiming van hierdie terrein sowel as die Groot Trek-monument op die dorp is noodsaaklik vir dié ‘onthou’ van die verlede. Ons geslag het die verantwoordelikheid om dit wat ons van ons voorouers ontvang het, op te pas en te bewaar en ons neem hierdie verantwoordelikheid met trots op,” sluit hy af.
Vyf feite oor die Vryburg-konsentrasiekamp
- Minstens 74% van die nagenoeg 300 sterftes in dié kamp was kinders van 16 jaar en jonger.
- Die meerderheid sterftes wat in die Vryburg-kamp aangeteken is, was weens masels, koors en ingewandkoors.
- Verskeie families is veral hard getref deur sterftes in die Vryburg kamp. Minstens 13 lede van die Jourbert-familie het in die kamp gesterf, terwyl sewe lede van die Landsberg-familie en sewe Naudé’s in dié kamp gesterf het.
- Die families in die Vryburg-kamp was meestal afkomstig uit die Vryburg-omgewing, Marico, Schweizer-Reneke, Zeerust, Waterberg, Bloemhof, Lichtenburg en Rustenburg. Enkeles was selfs afkomstig van Pretoria, Johannesburg en Wellington.
- Volgens amptelike rekords is daar daagliks een pond (1 lb) hout aan elke kampinwoner voorsien, maar ’n vroue-organisasie, bekend as die Ladies’ Committee, wat ondersoek ingestel het na die welstand van vroue en kinders in die kampe, het tydens ’n besoek aan die Vryburg-kamp opgemerk dat elke inwoner slegs een stomp (van nagenoeg een meter lank en 15 cm in deursneë) per week ontvang het. Dit was nie naastenby genoeg brandhout nie en daarom was kos dikwels net halfgekook, terwyl water ongekook gedrink moes word. Dit het uiteindelik tot die verspreiding van siektes soos ingewandkoors bygedra.
Ander buurtspan-projekte in Vryburg

Die instandhouding van die Vryburg-konsentrasiekampterrein is maar een van vele deurlopende projekte wat AfriForum se Vryburg-buurtspan takel. Nel en De Clercq Matthee, voorsitter van AfriForum se Vryburg-tak, staan aan die stuur van die buurtspan se projekte en maak met hul kennis van dié dorp seker dat die beskikbare hulpbronne optimaal aangewend word.
“Ons fokus primêr op skoonmaakprojekte soos die sny van gras en die verwydering van struike in groenstroke. Dié projekte is, benewens die estetiese waarde wat dit toevoeg, ook gemik op die bevordering van veiligheid,” beklemtoon Nel.
Daar word tans maandeliks minstens 1,4 ha gras gesny in dié dorp, terwyl ander opknappingsprojekte soos die herstel van slaggate ook deurlopend ter bevordering van padveiligheid aangepak word.




