AfriForum eis ingryping ná agt maande van onbetroubare watervoorsiening in Ritchie
Die inwoners van Ritchie in die Noord-Kaap het deur middel van AfriForum die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit formeel versoek om sy aandag toe te spit op die sporadiese watervoorsiening wat reeds sowat agt maande voortduur. Watervoorsiening in die gebied het sedert Mei vanjaar verder versleg en inwoners het soms dae waar daar feitlik geen betroubare watervoorsiening is nie.
“Dit is lankal nie meer bloot ’n normale wateronderbreking nie. Inwoners weet eenvoudig nie wanneer hulle water gaan hê en wanneer die krane weer gaan leegloop nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
’n Formele skrywe is verlede week aan die munisipale bestuurder gestuur, waarin aangedring word dat daar op inwoners se klagtes gereageer en daar klaring gegee word oor ’n moontlike terugslagklep wat die waterprobleme veroorsaak.
“Ons vra ’n behoorlike tegniese ondersoek. As daar wel ’n terugslagklep is, moet die munisipaliteit kan verduidelik wanneer en waarom dit geïnstalleer is, waar dit geleë is en of dit behoorlik funksioneer. Nog belangriker, daar moet verduidelik word waarom verskeie huishoudings dieselfde waterprobleme ervaar,” sê Strauss.
“Die antwoord dat inwoners bloot ’n boorgat en watertenk moet aanskaf, is nie ’n aanvaarbare plaasvervanger vir behoorlike munisipale dienslewering nie. Inwoners kan van alternatiewe waterbronne gebruik maak, maar dit kan nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid om sy waterinfrastruktuur behoorlik te bestuur en te onderhou, vervang nie.”
AfriForum versoek ook dat die Departement van Water en Sanitasie by die ondersoek betrek word om vas te stel of die probleem verband hou met onder meer waterdruk, pompe, reservoirs, hoofwaterlyne, kleppe, lekkasies, onderhoud of netwerkbestuur.
“Inwoners vra nie vir spesiale behandeling nie, net vir die mees basiese diens: betroubare watervoorsiening. Ons vra ook vir behoorlike kommunikasie, deursigtigheid en aanspreeklikheid. ’n Situasie waarin huishoudings vir ongeveer agt maande lank nie op betroubare watertoevoer kan staatmaak nie, kan nie eenvoudig geïgnoreer word nie,” sê Strauss.
Indien die munisipaliteit versuim om die probleem behoorlik te ondersoek en aan te spreek, behou AfriForum die reg om die situasie verder na onder andere die Departement van Water en Sanitasie, die provinsiale regering en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie te eskaleer.



