Is skole nog ’n veilige hawe vir kinders en onderwysers?
Deur Chanté Kelder
Skole behoort ’n veilige plek te wees vir kinders en onderwysers. Ouers is veronderstel om hul kinders met ’n geruste hart af te laai en te weet dat hul kind ongedeerd gaan terugkeer huis toe. Wat egter tans in talle Suid-Afrikaanse skole afspeel, is genoeg om die nekhare te laat rys.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het op 19 Augustus vanjaar ’n klopjag by sowat vyf skole in Alexandra uitgevoer waartydens daar beslag gelê is op 109 verbode items. Hoewel hierdie verbode items ook e-sigarette en sigarette ingesluit het, was dit wat die wenkbroue laat lig het, nie so onskuldig nie. Daar is onder meer beslag gelê op sakkies wat vermoedelik dagga bevat, messe, skêre, groot glasskerwe, ’n geïmproviseerde metaalwapen en selfs ’n leë koeël.
Volgens Lebogang Maile, Gautengse LUR vir Onderwys, vorm hierdie klopjagte deel van ’n poging om veiligheid in skole op te skerp en weg te doen met gevaarlike wapens, dwelms, bendes en ander misdadige aktiwiteite in Gautengse skole.
Klopjagte soos dié kan help om die onmiddellike gevare uit te skakel, maar dit kan nie ’n plaasvervanger wees vir ’n goeie skoolveiligheidsplan wat behoorlik geïmplementeer word nie. Dieselfde kind wat vandag met ’n mes gevang is, sal waarskynlik môre met ’n nuwe mes by die skool opdaag en hierdie klopjagte kan nie elke dag uitgevoer word nie.
In Wes-Kaapse skole speel ’n soortgelyke krisis af waar onderwysers oor hul eie veiligheid en dié van ander leerders bekommerd is. Luidens ’n berig in Rapport die afgelope naweek het talle onderwysers by skole in dié provinsie reeds bedank uit vrees vir hul eie veiligheid.
Een onderwyseres het vertel hoe ’n 15-jarige seun haar in haar klas met ’n mes gesteek het en gepoog het om haar te verkrag. Dié seun is van ’n ander skool af oorgeplaas na die skool waar sy gewerk het nadat hy ’n 13-jarige dogter verkrag het. Die onderwysers is nie in kennis gestel van sy geskiedenis nie.
Veiligheid in skole kan nie meer ’n terloopse gedagte wees nie. Daar behoort aktief opgetree te word om kinders én onderwysers te beskerm. Onderwysers meen dat ouers die kwessie in skole vererger aangesien hulle nie betrokke is by hul kinders se skoolloopbaan nie. Wanneer die skool ouers nader om te help om hul kinders te dissiplineer, word die skouers opgetrek en die verantwoordelikheid weer in die skool se hande geplaas.
Die verdere vraag is, wat gebeur met leerders wat hulself skuldig maak aan gewelddadige gedrag by die skool of in die besit is van verbode goedere? Word hulle net oor die vingers getik, of is daar stappe wat gedoen word om die kind te help terwyl ander leerders en onderwysers beskerm word teen hierdie tipe gedrag?
Die feit bly dat talle skole in Suid-Afrika nie meer ’n veilige hawe is soos dit veronderstel is om te wees nie, skole se hande is afgekap en die Departement van Basiese Onderwys blyk slegs pleisters te plak op ’n probleem wat al vir lank broei.



