|

AfriForum help Waterkloof-woongebied te belig ná inwoners self R150 000 insamel

Deur Megan Swart

Net soos wat etlike woonbuurte in Pretoria in duisternis gedompel word sodra die son sak, só durf die inwoners van die Waterkloof Palms Estate ook die afgelope ses jaar die strate van dié gebied aan terwyl die meerderheid van straatligte buitewerking is. Dié gemeenskap pak egter vandeesweek die voortslepende probleem aan en vervang self 42 straatligte met behulp van AfriForum.

Onder die wakende oog van dié burgerregteorganisasie word straatligte wat vir bykans 20 km ver strek, vervang. Die ligte in Highstraat en Damweg word met werkende ligte vervang wat teen 10 000 lumens skyn. Dié soort ligte voldoen aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se standaarde vir straatligte; bied ’n wye, helder ligstraal wat ontwerp is om padtekens en voetgangers duidelik te kan sien; en verbruik uiters min elektrisiteit.

Die dae lange projek word boonop self deur hierdie gemeenskap befonds. Inwoners het diep gedelf en daarin geslaag om bykans R150 000 in te samel om hul woongebied te belig en te beveilig.

Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, sê AfriForum fasiliteer dié projek as deel van sy memorandum van verstandhouding met die Tshwane-metro. Dit magtig AfriForum om verskeie uitdagings ten opsigte van die beveiliging en beskerming van eiendom en die omgewing in dié metro te takel.

“Die inwoners was moeg daarvoor om vir die metro te wag om die straatligte te vervang, so hulle het besluit om self iets daaraan te doen,” sê Van den Berg.

“Die gebied is vir jare lank in donkerte gehul en sonder behoorlike straatbeligting verhoog die risiko van inbrake en gewapende rooftogte by die dag. Werkende straatligte help nie net motoriste om in swak beligte gebiede te ry nie, maar dien ook as ’n belangrike afskrikmiddel vir misdadigers.”

Luidens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jongste misdaadstatistieke het die meeste eiendomsverwante misdade in Pretoria vir die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar in die Brooklyn-polisiestasie se polisiëringsgebied plaasgevind. Waterkloof val onder dié polisiëringsgebied waar altesaam 390 gevalle van onder meer inbrake en motordiefstal aangemeld is.

“Donker strate is onveilige strate. Inwoners is moeg daarvoor om te vra vir basiese dienste, so nou neem die burgerlike samelewing stelselmatig self hierdie funksie oor,” voeg Van den Berg by.

Die installering van die straatligte het Maandag begin. ’n Ervare elektrisiën, wat al op verskeie geleenthede op straatligte gewerk het, sal na verwagting teen Woensdag die projek afhandel.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf