AfriForum nooi waarnemende Polisieminister om aan buurtwagpatrollie deel te neem
AfriForum nooi Firoz Cachalia, die waarnemende minister van Polisie, formeel om aan een van die burgerregteorganisasie se buurtwagpatrollies deel te neem om eerstehands te sien hoe gemeenskappe oor die land heen gemobiliseer het in pogings om misdaad te bekamp. Dit volg op die minister se hernude verbintenis tot ’n hele-regering-, hele-samelewing-benadering tot die bestryding van misdaad tydens die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers vir die derde kwartaal vir die huidige boekjaar Vrydag. AfriForum verwelkom hierdie benadering en beklemtoon die belangrikheid van formele samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en buurtwagstrukture. AfriForum het vandag sy skriftelike uitnodiging aan Cachalia gerig om op ’n tyd en plek aan ’n patrollie deel te neem wat gerieflik is vir hom. Die doel van die uitnodiging is om die gestruktureerde, gedissiplineerde en wettige wyse te demonstreer waarop AfriForum se buurtwaglede die SAPD ondersteun.
Sedert die stigting van sy eerste buurtwag in 2012, het AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid tot 177 buurtwagstrukture landwyd uitgebrei. Hierdie strukture funksioneer binne gedefinieerde wetlike parameters, voldoen aan streng gedragskodes en ondergaan gestruktureerde opleidingsprogramme om professionaliteit en verantwoordbaarheid te verseker.
Opleiding binne AfriForum se buurtwagnetwerk sluit fundamentele regs- en operasionele opleiding in, asook protokolle vir kommunikasie en die rapportering van voorvalle. Sektorhoofde en koördineerders ontvang ook opleiding in leierskap en hoe om beheer te neem in sommige situasies. Deurlopende opleiding verseker dat hoë standaarde oor alle strukture gehandhaaf word.
Volgens AfriForum versterk gestruktureerde samewerking tussen buurtwagte en plaaslike SAPD-lede misdaadvoorkomingspogings, dit verbeter inligtingsdeling en dit versterk vertroue tussen gemeenskappe en wetstoepassing.
“Gemeenskappe neem op ’n verantwoordelike en georganiseerde wyse eienaarskap om hul woonbuurte te beveilig. Ons sal van die geleentheid wil gebruikmaak om die waarnemende minister te wys hoe gedissiplineerd en professioneel ons vrywilligers optree en hoe gestruktureerde samewerking met die SAPD as ’n magsvermenigvuldiger in die stryd teen misdaad kan dien,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
“Gemeenskappe het die SAPD nodig en net so het die SAPD gemeenskappe nodig. Beter samewerking sal help om veiligheid vir almal te verbeter,” sluit Broodryk af.



