| | |

AfriForum bevraagteken Govan Mbeki se buitensporige kragtariewe

AfriForum eis dringende antwoorde van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit oor sy beplande kragverhoging van 12,75%. Dié versoek volg nadat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) slegs ’n 8,76%-tariefverhoging vir die jaar goedgekeur het, wat reeds bo die inflasiekoers is. Die munisipaliteit wil dus ongeveer 4% meer as die goedgekeurde tarief hef.

In ’n brief wat AfriForum Donderdag 19 Februarie aan die Govan Mbeki-munisipaliteit gerig het, word versoek dat die munisipaliteit sy kostevoorsieningsdokument aan die organisasie beskikbaar stel om dit deeglik te bestudeer. Hierdie dokument gee ’n uiteensetting van wat dit die munisipaliteit kos om krag aan inwoners te verskaf.

“Daar is in die verlede opgemerk dat munisipaliteite nie in besit is van hierdie dokument nie en dus sommer tariewe uit hul duime suig. In ander gevalle is die dokument slegs twee bladsye, wat niksseggend is. NERSA moet hierdie dokument nagaan om die aansoek vir verhogings bo die goedgekeurde tarief van 8,76% goed te keur,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Luidens die jongste kwartaallikse verslag wat die Govan Mbeki-munisipaliteit bekendgemaak het, het die munisipaliteit die afgelope 12 maande slegs 66% ingevorder van die fooie wat via munisipale rekeninge aan hom verskuldig is. Dit word gestaaf deur die meer as R350 000 wat sommige raadslede aan die munisipaliteit skuld omdat hulle nie hul rekeninge betaal nie. AfriForum het hierdie probleem al menigte kere aan die munisipaliteit uitgelig.

“Betalende inwoners word gewurg vir geld, terwyl 34% van die munisipaliteit se inwoners nie hul rekeninge betaal nie. Dit is nie volhoubaar vir enige munisipaliteit om te oorleef nie. AfriForum stel voor dat die munisipaliteit strenger optree teen nie-betalende inwoners as om buitensporige kragverhogings in te stel,” sê Bekker.

Indien die munisipaliteit nie die dokument aan AfriForum beskikbaar stel nie – of die inhoud daarvan is onvoldoende – sal die organisasie die situasie na NERSA eskaleer.

Steun AfriForum se petisie teen die Govan Mbeki-munisipaliteit se kragverhoging: 12,74%-elektrisiteitsverhoging in Govan Mbeki – AfriForum.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf