| | |

AfriForum nooi gemeenskap om Fort Klapperkop se tuine te help opknap

AfriForum gaan Saterdag 21 November, in samewerking met die Friends of the Groenkloof and Klapperkop Nature Reserves, die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se museumafdeling en departement van Natuurbewaring, ’n opknappingsprojek by Fort Klapperkop in Pretoria aanpak. Die projek het ten doel om dié geskiedkundige terrein se tuine te verfraai en gemeenskapslede by die bewaring en instandhouding van openbare ruimtes en erfenisterreine te betrek. Met hierdie projek wil die organisasie Fort Klapperkop onder meer weer in die kollig plaas en meer mense aanmoedig om die fort te besoek. AfriForum hoop dat ’n netjiese, goed versorgde terrein en aantreklike tuine sal help om die fort weer as ’n gewilde besoekersbestemming te vestig.

Fort Klapperkop is ’n historiese militêre fort in Pretoria wat in 1897 deur die Zuid-Afrikaansche Republiek gebou is om Pretoria teen moontlike aanvalle te beskerm. Dit is een van vier forte wat destyds rondom Pretoria opgerig is en bied vandag aan besoekers ’n blik op die stad se militêre geskiedenis, asook ’n pragtige uitsig oor Pretoria.

Die fort val onder die beheer van die Tshwane-metro, wat beperkte finansiële hulpbronne en personeel aan die instandhouding daarvan toewys. Die druk op die munisipaliteit se begroting bemoeilik die behoorlike versorging van die terrein verder. Die terrein word dus nie na behore in stand gehou nie en sy potensiaal as openbare besienswaardigheid word nie ten volle benut nie.

Vrywilligers gaan tydens die projek onder meer onkruid verwyder en die tuine en omliggende terrein opruim. Die publiek word genooi om saam hande te vat en ’n positiewe bydrae tot die bewaring van dié bekende Pretoriase baken te lewer.

“Fort Klapperkop is ’n belangrike deel van Pretoria se geskiedenis en ons wil graag hê dat die gemeenskap saam verantwoordelikheid vir die bewaring daarvan moet neem. Hierdie projek bied aan inwoners die geleentheid om self betrokke te raak en ’n tasbare verskil te maak,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum benadruk dat die Tshwane-metro uiteindelik verantwoordelik bly vir die bestuur en instandhouding van Fort Klapperkop. Die Friends of the Groenkloof and Klapperkop Nature Reserves lewer egter ’n onmisbare bydrae om die munisipaliteit se beperkte kapasiteit aan te vul.

“Die samewerking tussen AfriForum en die Friends toon hoe gemeenskapsorganisasies ’n daadwerklike verskil kan maak. Dit verander egter nie die feit dat die munisipaliteit steeds verantwoordelik is vir die behoorlike instandhouding en bewaring van hierdie openbare erfenisterrein nie,” sluit De Waal af.

Benewens die opknappingswerk sal daar ook ’n koffiestalletjie wees en worsbroodjies gebraai word. Besoekers sal verder om 10:00 aan ’n begeleide toer van die fort kan deelneem, waartydens hulle meer oor die geskiedenis van dié erfenisterrein kan leer.

Lede van die media word uitgenooi om die geleentheid by te woon.

Die besonderhede is soos volg:

Datum: Saterdag 21 November 

Tyd: 08:00 tot 12:00

Plek: Fort Klapperkop, Pretoria

Begeleide toer: 10:00 (ongeveer 45 minute)

Gemeenskapslede wat aan die opknappingsprojek wil deelneem, word aangemoedig om hul eie tuinhandskoene en tuingereedskap, soos grawe, harke en skoffels, saam te bring. Skenkings van kompos is ook welkom.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf