AfriForum Dinsdag weer in hof teen Eskom en NERSA oor elektrisiteitstariefverhogings
AfriForum sal op 24 November in die Pretoriase Hooggeregshof weereens te staan kom teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) en Eskom, as deel van sy voortdurende regstryd oor omstrede elektrisiteitstariefverhogings. Dié saak handel oor NERSA se besluit om bykomende tariefverhogings goed te keur, wat daarop gemik is om ongeveer R54 miljard vir Eskom te verhaal.
Die saak is vroeër vanjaar op ’n dringende grondslag voor die hof gebring. Die hof het die aansoek egter van die dringende rol verwyder en daarmee in effek bevind dat die saak nie dringende aandag regverdig nie. AfriForum vind dit kommerwekkend dat ’n kwessie wat bepaal hoeveel miljoene Suid-Afrikaners vir elektrisiteit moet betaal, nie as dringend beskou is nie – wat verbruikers dwing om maande lank te wag vir die saak om aangehoor te word.
Die geskil spruit voort uit ’n sogenaamde berekeningsfout wat daartoe gelei het dat NERSA bykomende elektrisiteitstariefverhogings van 8,76% vir die 2026/2027-boekjaar en 8,83% vir die 2027/2028-boekjaar goedgekeur het. AfriForum het die hof genader nadat NERSA, ten spyte van herhaaldelike versoeke, versuim het om redes vir sy besluit te verskaf. Hoewel NERSA uiteindelik hierdie redes op die vooraand van die vorige hofverrigtinge bekend gemaak het, voer AfriForum aan dat daar steeds ernstige vrae bestaan oor die rasionaliteit, regmatigheid en deursigtigheid van die besluitnemingsproses.
Dit volg op ’n vroeëre hofoorwinning vir AfriForum in Desember 2025, toe die Pretoriase Hooggeregshof beslis het dat ’n skikking tussen Eskom en NERSA, wat met die berekeningsfout verband hou, sonder behoorlike openbare deelname bereik is.
Volgens Dalena Beyers, AfriForum se adviseur oor plaaslikeregeringsake, behoort elektrisiteitsverbruikers nie lang regstryde te voer om deursigtigheid te verkry oor besluite wat hul huishoudelike begrotings direk raak nie.
“Suid-Afrikaners verdien deursigtigheid en aanspreeklikheid wanneer dit kom by besluite wat hul elektrisiteitsrekeninge direk raak. NERSA moet tot verantwoording geroep word om toe te sien dat tariefbesluite op ’n wettige, rasionele en deursigtige wyse geneem word,” sluit Beyers af.



