AfriForum lei nóg 16 protospanlede in Oos-Kaap op
AfriForum het onlangs sy 30ste protospankursus in die Jeffreysbaai-omgewing in die Oos-Kaap aangebied, waar 16 AfriForum-buurtwaglede dié intensiewe opleiding voltooi het. Hierdie lede vorm nou deel van AfriForum se nasionale netwerk van protospanlede wat hoogs opgelei is om tydens hoëdruk- en noodsituasies op te tree.
Die deelnemers, wat van AfriForum se buurtwagstrukture in Gqeberha (Port Elizabeth), Jeffreysbaai, Cradock en Oos-Londen afkomstig is, het teoretiese en praktiese opleiding ontvang in onder meer taktiese vuurwapenhantering, selfverdediging, radiokommunikasie, die benadering en beveiliging van misdaadtonele, optrede tydens gewelddadige voorvalle en basiese mediese noodoptrede.
Die opleiding is daarop gemik om buurtwaglede met gevorderde vaardighede toe te rus sodat hulle veilig, gedissiplineerd en binne die raamwerk van die wet tydens ernstige noodsituasies kan optree.
“Protospanlede is gewone mense wat bereid is om buitengewone verantwoordelikheid vir die veiligheid van hul gemeenskappe te aanvaar. Hulle gee hul tyd vrywillig op om hulself op te lei en beskikbaar te stel wanneer ander mense hulp nodig het. Met elke kursus bou ons verder aan ’n landwye netwerk van goed opgeleide vrywilligers wat gereed is om verantwoordelik op te tree wanneer dit werklik saak maak,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
“Die voltooiing van hierdie kursus is egter nie die einde van die opleiding nie. Protospanlede moet hul vaardighede deurlopend inoefen en verskerp. Ons doel is om gemeenskappe oor die land heen toenemend weerbaar te maak en mense toe te rus om binne die wet ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel,” sluit Broodryk af.



