|

AfriForum vra dat burgemeester ingryp ná George-munisipaliteit veiligheidsrolspelers uitsluit

AfriForum het ’n skrywe aan George se uitvoerende burgemeester, Browen Johnson, gestuur waarin die organisasie dringende ingryping eis nadat die George Munisipaliteit verskeie veiligheidsrolspelers se toegang tot die munisipale NAVIC-kamerastelsel sonder behoorlike voorafgaande oorlegpleging beëindig het. Die munisipaliteit het boonop uitdruklik geweier om met AfriForum oor die besluit te vergader, ondanks die organisasie se versoek om samesprekings te voer.

Die besluit, wat op 21 September in werking getree het, beteken dat lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), buurtwagte, plaaswagte en ander veiligheidsrolspelers wat voorheen toegang tot die stelsel gehad het, nie meer self die opnames kan moniteer om misdadigheid oop te vlek en reaksies te koördineer nie.

Volgens AfriForum verhoog die besluit veiligheidsrisiko’s omdat die monitering van kameras en die koördinering van inligting nou hoofsaaklik op die munisipale beheerkamer berus. Dit terwyl daar reeds kommer bestaan oor die beheerkamer se reaksievermoë en kommunikasie met veiligheidsrolspelers.

Die munisipaliteit het intussen ’n nuwe aansoekproses ingestel waarvolgens veiligheidsrolspelers weer om toegang tot die stelsel kan aansoek doen. Dit sluit bykomende verifiëring in, ondanks bestaande keuringsprosesse vir deelname aan die E2-netwerk (Eyes and Ears Initiative) en toegang tot die NAVIC-platform. AfriForum bevraagteken die noodsaaklikheid van hierdie bykomende proses, asook wie die verifiëring sal uitvoer en watter bevoegdheid enige betrokke derde party het.

“AfriForum meen die munisipaliteit se optrede is kortsigtig, ondeurdag en stel die gemeenskap aan onnodige veiligheidsrisiko’s bloot. Hierdie rolspelers, van wie baie vrywilligers is, gebruik reeds jare lank hul persoonlike tyd, geld en hulpbronne om die gemeenskap te beveilig. Om hulle sonder behoorlike oorlegpleging uit te sluit, spreek boekdele van die munisipaliteit se gebrek aan waardering vir gemeenskapsbetrokkenheid,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Volgens Erasmus druis die munisipaliteit se optrede ook in teen die DA, wat aan die stuur is van George, se benadering wat juis samewerking tussen die staat, gemeenskappe en die privaat sektor voorstaan.

AfriForum het die burgemeester versoek om duidelikheid te gee oor die keuringsprosedures, opleiding en ervaring van munisipale personeel wat toegang tot die stelsel het, asook hoe aansoekers se persoonlike inligting ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) hanteer sal word.

Die organisasie eis dat die besluit dringend heroorweeg word, dat ’n tussentydse reëling getref word om bestaande moniteringsvermoë te herstel en dat die munisipaliteit dringend met AfriForum, die SAPD en ander veiligheidsrolspelers vergader om ’n werkbare oplossing te vind.

“Dit gaan nie oor wie die kameras besit nie, maar oor die veiligheid van die gemeenskap. Geen munisipaliteit kan misdaad alleen bekamp nie. Gemeenskapsveiligheid vereis samewerking en ons kan nie toelaat dat burokratiese besluite die vermoë van gevestigde veiligheidsnetwerke verswak nie,” sluit Erasmus af.

AfriForum sal voortgaan om vir veilige gemeenskappe te veg. Sluit vandag nog aan om hiermee te help. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid