|

KYK: Stemmet-span bring nuwe speletjiesprogram vir kinders later dié week na die AfriForumTV-kassie

Deur Ilze Nieuwoudt

Sommer Soetkoek, ’n nuwe opvoedkundige speletjiesprogram vir die kleinspan – vervaardig deur die meesters van Afrikaanse speletjiesprogramme – kom Donderdag na die AfriForumTV- aanlyn platform. Wanneer dit kom by vermaaklikheids- en speletjiesprogramme is die span by Johan Stemmet Entertainment Enterprises beslis die leiers in die bedryf, en met Sommer Soetkoek sit hulle hul suksesresep (met ’n prettige kinkel) voort!

Sommer Soetkoek-lokprent

Dié interaktiewe opvoedkundige speletjiesprogram is daarop gemik om die ontwikkeling van laerskoolkinders se geletterdheid- en syfervaardighede op ’n speelse manier aan te moedig en ’n liefde vir taal en syfers aan te wakker.

Volgens Carl Stemmet, vervaardiger en kreatiewe regisseur van Sommer Soetkoek en seun van die Noot vir Noot-legende Johan Stemmet, spits hul produksiemaatskappy hom toe op televisieprogramme wat vermaak én opvoedkundige waarde het. Kykers ken, vertrou én geniet jare lank reeds dié span se programme.

Musiekspeletjieprogramme soos Noot vir Noot, Musiek Roulette en Oppi Noot, die vasvraprogram Fundis en die gewilde opvoedkundige speletjiesprogram Words and Numbers is maar enkele van die grootste suksesse op die Stemmet-span se kerfstok.

Met Sommer Soetkoek doen hulle dinge egter hierdie keer ietwat anders, verduidelik hy. Elke vyfminuutprogram bevat ’n interaktiewe woord- of syferspeletjie, maar anders as gewone vasvraprogramme is die deelnemers nie in die ateljee nie. Hierdie keer neem die kyker sommer uit die gerief van sy eie huis deel aan dié ervaring. “Ons programme het gewoonlik ateljeedeelnemers, maar hierdie keer het ons besluit om twee karakters te skep wat kykers deur die speletjies lei sodat hulle interaktief kan deelneem en saamspeel,” verduidelik Stemmet.

Dié karakters, die pretbelaaide, innemende poppe Alfie en Numero, trek behóórlik die aandag en spreek tot hul jong gehoor op ’n manier wat net dié twee kan. Hulle is, volgens Stemmet, “die perfekte aanbieders” vir die interaktiewe benadering wat met Sommer Soetkoek gevolg word. 

Met Sommer Soetkoek is ouers en kinders nie bloot passiewe kykers nie. O nee, waarsku Stemmet, met dié program kan jonk én oud nie anders nie as om aktief saam te speel nie. Kykers kan hulle gereed maak vir agt verskillende energieke syfer- en letterspeletjies met meer as 30 episodes per speletjie. “Jy en jou kinders word die ateljeedeelnemers,” verklap hy.

En met 261 kortvorm-episodes wat reeds vervaardig is, is daar genoeg pret en plesier propvol van Alfie en Numero se manewales vir elke weeksdag van die jaar.

“Op hierdie manier kan die episodes deel word van die gesin se daaglikse roetine en kan die laerskoolkinders en in sommige gevalle sommer die ouers ook, hulle wiskunde- en geletterdheidsvaardighede daagliks versterk. Alfie en Numero gaan beslis permanente en baie welkome gaste in vele Afrikaanse huise word,” sluit Stemmet af.

Sommer Soetkoek is van Donderdag 23 Julie beskikbaar op jou gratis Afrikaanse aanlyn stromingsplatform AfriForumTV.

Afrikaanse vermaak: Dis hier waar ons tuis voel

Ondanks die daling in Afrikaanse inhoud op die openbare uitsaaier se kanale, lê Afrikaanse produksies die span van Johan Stemmet Entertainment Enterprises steeds na aan die hart.

Stemmet verduidelik: “Ons ken en verstaan ons Afrikaanse kykers. Ons wis wat die voor- en afkeure is, en was daarom oor die afgelope 46 jaar nog altyd gemaklik om in ons teikenmark te beweeg en programme in Afrikaans te vervaardig. Dis waar ons tuis voel. Ons bydrae tot die behoud en uitbou van Afrikaans was maar altyd deur middel van ons musiek- en speletjiesprogramme. Met Sommer Soetkoek bou ons slegs voort op wat ons oor die jare gedoen het en glo dat hierdie programmetjies ’n daadwerklike bydrae sal lewer tot ons laerskoolkinders se omgang met Afrikaans.”

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners