|

Langkloof se mense ná die Mei-maand-vloede: “Ons is aan die genade uitgelewer”

Deur Ilze Nieuwoudt

Die Langkloof, Mei 2026.

Hier het ’n uitgestrekte en vrugbare strook aarde in die Oos-Kaap met sy nagenoeg 35 000 inwoners die verwoestende impak van stormweer intens aan die lyf gevoel. Die storms wat van 6 tot 8 Mei in dié geweste gewoed het, het ’n spoor van vernietiging agtergelaat. In dié dae het die hemele se krane met mag oopgedraai en ’n stortvloed water laat neerdaal op ’n streek wat ’n gemiddelde jaarlikse reënvalsyfer van sowat 400 tot 700 mm per jaar het. Sommige sitrusprodusente het in die drie dae se stormweer reënval van sowat 1 000 mm gemeet.

Skade aan die R62 na die Mei-vloede (Fotobron: www.freshplaza.com)

Die skade was omvangryk en die R62-roete – die lewensaar deur dié kloof – is plek-plek weggespoel.

Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is die ernstigste skade aan die R62-roete op die pad tussen Joubertina en Kareedouw aangemeld. “Op een plek, sowat 10 km voor Kareedouw, is die pad feitlik weggekalwe. Daar was ook ’n ineenstorting tussen Krakeel en Joubertina, terwyl die padoppervlak enkele kilometer buite Joubertina ernstig beskadig is,” verduidelik hy.

Dit is egter nie net dié roete wat ernstige skade gely het nie. “Grondpaaie, brûe, uiteenlopende landbou-infrastruktuur, pyplyne, boorde en damme is ook beskadig. Grondverskuiwings het voorgekom en terwyl die hoofwaterlyn na Joubertina beskadig is en die dorp ’n tyd lank sonder water gelaat is, het die vloede ook die plaaspaaie en talle ander paaie in die distrik ook vir ’n tyd lank onbegaanbaar gemaak,” skets Van der Vyver die prentjie van skade.

Kort ná die verwoestende storms is die vloedskade in die Oos-Kaap op nagenoeg R1,5 miljard gereken.

Die omvangryke skade aan die padnetwerk in die kloof het nie net langer reistye vir die inwoners meegebring nie, verduidelik Van der Vyver. “Die R62 is die Langkloof se ekonomiese lewensaar. Met die pad wat afgesny was, moes vragmotors op ’n stadium ompaaie van sowat 600 km via George ry om produkte by Gqeberha (Port Elizabeth) en die Ngqura/Coega-hawe te kry.”

Die Suid-Afrikaanse sagtevrugte-bedryfsliggaam Hortgro het bereken dat die bykomende reistyd kostes geweldig opstoot en die bedryf sowat R250 000 per dag meer uit die sak gejaag het. Ander skattings het die daaglikse verlies selfs hoër geskat.

Volgens lede van die gemeenskap, was daar twee maande ná die storms sy pad van verwoesting deur die kloof gevat het, nog geen regeringsingenieur om die gebied te besoek nie.

Die gemeenskap het egter nie op hul louere gerus nie, benadruk Van der Vyver. “Ná meer as sewe weke sonder die nodige permanente oplossing het plaaslike boere en die landbougemeenskap ’n privaat verbypad gebou. Teen die einde van Junie het dié pad reeds sowat R700 000 gekos, met ’n geraamde finale koste van ongeveer R1,2 miljoen.”

In ’n sosialemediaplasing deur Langkloof Tourism in Junie, is die opening van die privaat ompad aangekondig. Dié plasing stel dit duidelik dat die idioom “’n boer maak ’n plan” maar alte waar is: “Die privaat ompad is vandag in werking gestel […] Ek wil net noem dat geen staatsdepartement, munisipaliteit, politieke party of Sanral het enige iets met die ompad te doen nie, dit is die deur die plaaslike boerdery en breër Langkloof-gemeenskap georganiseer en gefinansier.”

Hoewel herstelwerk aan die R62 intussen afgeskop het, sal dié roete, luidens mediaberigte eers oor nagenoeg twee maande weer heropen word.

Daarom duur die gemeenskap se eie herstelwerk aan beskadigde paaie steeds voort en het AfriForum besluit om ook ’n hand by te sit.

Annika Vorster, ’n AfriForum-lid, sameroeper van die herstelprojek en inwoner van die Langkloof, stel dit duidelik dat die bou van die alternatiewe pad uitdagend is en verdere druk op boere plaas: “Die boere is nie finansieel voorbereid op sulke uitgawes [vir die bou van ’n pad] nie, en ons versekering maak nie daarvoor voorsiening nie […] Ons is regtig aan die genade uitgelewer.”

Van der Vyver hou op sy beurt vol dat AfriForum juis aan die inwoners van die gebied wil hoop gee en poog nou om R260 000 ten bate van hierdie projek in te samel. “Ons fokus is veral op die plaaslike, distriks- en toegangspaaie wat deur die vloed verspoel is en waarvan die plaaslike gemeenskappe afhanklik is. Hoe langer dit neem om hierdie paaie te herstel, hoe groter word die uiteindelike impak en hoe langer sal dit die gemeenskap vat om op te staan,” verduidelik hy.

“Ná die vloed was mense se toegang tot werk, plase, skole, mediese dienste en markte onmiddellik in gedrang, en die formele prosesse van die regering kon nie teen dieselfde tempo beweeg as die nood van die mense op grondvlak nie. Die gemeenskap het daarom besluit om self oplossings te skep, paaie te herstel, swaar toerusting te huur en selfs ’n alternatiewe roete rondom die beskadigde R62 te bou. Terwyl ander wag op die staat om te herstel, het hierdie gemeenskap moue opgerol en sélf gebou – en AfriForum se hulp sal help om dié opbouwerk vinniger in ’n realiteit te omskep,” benadruk Van der Vyver.

“Die staat bly verantwoordelik vir openbare infrastruktuur, maar waar ’n gemeenskap bereid is om self op te staan, wil AfriForum help om daardie vermoë te organiseer en in tasbare herstelwerk om te skakel,” sluit hy af.

Jy kan ook help

Ondersteun AfriForum se hulp aan die Langkloof-gemeenskap. Klik hier om die projek te ondersteun.

* Dekfoto: Langkloof Tourism

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf