|

AfriForum-veiligheidsnetwerke behaal landwyd suksesse in misdaadbekamping, opleiding en noodreaksie

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (English)

AfriForum se buurt- en plaaswagte was die afgelope twee weke betrokke by verskeie suksesvolle operasies wat onder meer gelei het tot die opsporing van drie ontvoerde persone, twee gekaapte voertuie en een gekaapte vragmotor sowel as die arrestasie van 88 verdagtes in verband met uiteenlopende misdade. Die organisasie se veiligheidstrukture was ook aan die buitewyke van Pretoria betrokke by ’n noodreaksie-operasie en ’n span vroue, van Hopefield in die Wes-Kaap het pas hul vuurwapenhanteringsopleiding voltooi.

Dié reaksie- en misdaadvoorkomingsaksies bevestig AfriForum se verbintenis tot die skep van ’n veilige gemeenskap met die hulp van sy goedopgeleide veiligheidstrukture.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, benadruk dat die uiteenlopende suksesse wat bereik is, oor veel meer as net misdaadbekamping gaan. “Dit spreek van die toewyding van AfriForum se 177 buurtwagte wat daagliks die verantwoordelikheid van die beskerming van hul gemeenskappe met ywer opneem. Hierdie suksesse sluit ook misdaadvoorkoming, opleiding, noodreaksie en sterk vennootskappe in.”

Meer besonderhede oor die onlangse suksesse volg hieronder:

AfriForum-buurtwag spoor twee slagoffers van ontvoering- en kapingsdrama op

Op 29 Junie het AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag, in samewerking met ander veiligheidsvennote, daarin geslaag om twee inwoners van Karenpark, Akasia, wat tydens ’n motorkaping ontvoer is, op te spoor.

Die buurtwag het teen omstreeks 19:30 ’n noodoproep deur die AfriForum-radionetwerk ontvang rakende die kaping en ontvoering van twee insittendes, ’n jong man en vrou. Die organisasie en vennote se blitsige reaksie het verseker dat die verdagtes agterna gesit en in Soshanguve aangekeer kon word. Die slagoffers was ongedeerd.

Die gekaapte voertuig sowel as nog ’n voertuig wat vroeër daardie week in Hermanstad, in die weste van die stad gekaap is, en drie handwapens is in die besit van die drie verdagtes gekry. Die verdagtes is gearresteer.

88 gearresteer tydens gesamentlike operasie in Akasia en Pretoria-Noord

’n Grootskaalse operasie wat AfriForum op 3 en 4 Julie in samewerking met eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangepak het in die noorde van die stad, het tot die arrestasie van 88 mense gelei. Verskeie AfriForum-buurtwagte, insluitende die Noord van die Berg-, Groter Moot-, Centurion- en Wes-Moot-buurtwag sowel as die organisasie se honde-eenheid, het kragte saamgesnoer met die SAPD, die Tshwane-metropolisie, die departement van Binnelandse Sake en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum vir die uitvoering van dié Operasie Shanela-misdaadvoorkomingsaksie.

Tydens dié operasie wat op sleutelpunte in Akasia en Pretoria-Noord uitgevoer is, is drie mense aangekeer vir ontvoering, terwyl die ontvoerde persoon veilig opgespoor is. Daarbenewens is onder meer 41 onwettige immigrante aangekeer sowel as 34 persone vir dronkbestuur, vyf vir die besit van dwelms, een vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en een vir die besit van gesteelde goedere. Daar is ook toegeslaan op drie onwettige tavernes in die omgewing van Bon Accord en Pretoria-Noord en een in Soshanguve. Dié onwettige ondernemings is gesluit.  

AfriForum-protospan spoor gesteelde bakkie op in bebosde gebied buite Mokopane

In Mokopane (Potgietersrus) het AfriForum se plaaslike protospan op 7 Julie gereageer op inligting oor ’n vermoedelik gesteelde Toyota Hilux-bakkie wat in ’n dig bebosde gebied buite die dorp opgemerk is.

Die voertuig was verlate, maar nadere ondersoek toon dat die misdadigers in die proses was om die bakkie te kloon. Voertuigkloning vind plaas wanneer die identiteit van ’n wettig geregistreerde voertuig oorgedra word aan ’n gesteelde of onwettig ingevoerde voertuig. As deel van dié proses word nommerplate oorgedra en met die voertuigidentifikasienommer (VIN-nommer) gepeuter om dit eg te laat voorkom.  

Die bakkie is aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek. Geen verdagtes is aangekeer nie.

Gekaapte vragmotor op N12 gevind

’n Gekaapte vragmotor is op Donderdag 9 Julie op die N12 naby Delmas opgespoor deur AfriForum se Delmas Valke-buurtwag, die SAPD se Middelburg-snelwegpatrollie en die plaaslike SAPD. Twee verdagtes is gearresteer.

AfriForum se buurtwag het ’n sleutelrol in die operasie gespeel en ’n termiese hommeltuig en grondspanne tydens die soektog na die gekaapte vragmotor ingespan.

Vervalste nommerplate en ander relevante bewyse is op die toneel gevind wat moontlik dui op die betrokkenheid van ’n voertuigdiefstalsindikaat.

AfriForum-tak gryp in by verwoestende brand buite Bapsfontein

Met die hulp van vrywilligers van AfriForum se Groter Pretoria-Oos-tak en nooddienste kon skade weens veldbrande wat in die afgelope naweek in die Welbekend-gebied buite Bapsfontein gewoed het, suksesvol beperk word. Die brande het na raming nagenoeg 500 hektaar se weiding vernietig, maar danksy die gemeenskap se bystand in die bestryding van die brand, is geen eiendom beskadig of beserings aangemeld nie.

 Vroue van Hopefield nou gerat vir vuurwapenveiligheid ná opleiding

Vyf vroue van AfriForum se Hopefield-plaaswag in die Wes-Kaap het die afgelope naweek ’n twee dae lange kursus in basiese vuurwapenhantering voltooi. Dié AfriForum-kursus sluit teoretiese opleiding, ’n teoretiese en praktiese eksamen én praktiese skietbaanopleiding onder toesig van gekwalifiseerde baanbeamptes in.

Volgens Broodryk is vuurwapens nie net blote hulpmiddels nie, maar ’n reuse-verantwoordelikheid. “Dit is daarom van kritieke belang dat elke persoon wat ’n vuurwapen besit of hanteer, behoorlike opleiding ontvang en die beginsels van veilige vuurwapenhantering verstaan en toepas. Opleiding soos dié wat hierdie groep vroue ondergaan het, bou selfvertroue, bevorder verantwoordelike vuurwapeneienaarskap en is ’n waardevolle belegging in persoonlike veiligheid,” verduidelik hy.

AfriForum bedank al sy buurt- en plaaswagvrywilligers, die SAPD, nooddienste, privaat veiligheidsmaatskappye en ander rolspelers wat saamspan om gemeenskappe te beveilig. Hierdie suksesse beklemtoon die waarde van aktiewe burgerlike betrokkenheid en die krag van volgehoue samewerking.

Sluit vandag nog aan by jou naaste AfriForum-buurtwag. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

Veiligheid