AfriForum eis antwoorde oor Tshwane se hoër waterbeperkingstariewe
In ’n formele aanmaningsbrief wat gister gestuur is aan Johann Mettler, stadsbestuurder van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, betwis AfriForum die grondslag waarop die metro vlak 2-waterbeperkingstariewe geïmplementeer het. Die organisasie eis ook bewyse dat daar aan die vereistes van die metro se eie tariefbeleid voldoen is.
Dit volg nadat die metro versuim het om op AfriForum se herhaalde versoeke om inligting oor buitensporige waterverbruik en aansienlike waterverliese in sy verspreidingsnetwerk te reageer. AfriForum bevraagteken die billikheid daarvan om hoër tariewe in te stel sonder om te bewys dat verbruikers vir die oormatige verbruik verantwoordelik is of dat die metro self voldoende stappe doen om sy eie waterverliese te beperk.
Artikels 18.4 en 18.5 van die metro se goedgekeurde tariefbeleid tref ’n onderskeid tussen die aankondiging van waterbeperkings na aanleiding van ’n versoek deur Rand Water of die Departement van Water en Sanitasie, en die instelling van hoër tariewe wanneer verbruikers nie gehoor gee aan versoeke om hul waterverbruik te verminder nie.
Alhoewel Rand Water versoek het dat Tshwane sy grootmaatwaterverbruik verminder, bly dit onduidelik op watter bewyse die metro staatgemaak het om vas te stel dat verbruikers versuim het om aan sy versoeke om verbruik te verminder te voldoen en op grond van watter gesag die hoër tariewe geïmplementeer is.
Die metro het ook daarin gefaal om voldoende te onderskei tussen die volume water wat sy verspreidingsnetwerk binnevloei en die hoeveelheid wat inwoners werklik verbruik.
“Die jongste gepubliseerde syfers toon dat Tshwane se totale waterverliese 44,3% beloop, waarvan 35% fisiese verliese is. Dit is aansienlik hoër as die teiken van minder as 15%. Inwoners het ’n verantwoordelikheid om water spaarsamig te gebruik, maar die metro kan nie die krisis bloot aan inwoners se oormatige waterverbruik toeskryf terwyl hy versuim om aan te toon hoe hy sy eie aansienlike waterverliese takel nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.
AfriForum se regspan het geëis dat die metro die redes vir sy besluit verskaf, insluitend die metodologie en ondersteunende data waarop die hoër tariewe gegrond is. Die metro moet ook ondernemings gee rakende die duur van die tariewe, asook die invordering van inkomste wat daaraan gekoppel is hangende ’n hersiening van sy besluit.
AfriForum het die metro tot Maandag 30 November om 13:00 gegun om die inligting en ondernemings te verskaf, by gebreke waarvan AfriForum hom tot die Hooggeregshof vir gepaste regshulp sal wend.



