|

AfriForum waarsku VN oor bedreiging van minderheidsregte in SA

Werner Human (Afrikaans)
Werner Human (Engels)

AfriForum het vandag in Genève, Switserland, ’n dringende waarskuwing rakende die bedreiging van minderheidsregte in Suid-Afrika aan die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede gerig. Die organisasie het in sy voorlegging onder meer benadruk dat plaaslike minderhede se taal- en kultuurregte – ondanks die beskerming wat die Grondwet moet bied – weens rasgebaseerde wetgewing en ’n ondoeltreffende en telkens vyandige regering in die praktyk verskraal word tot blote “papierregte”.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter in hul repliek hierop aangevoer dat die vervolging van Afrikaners ’n “valse narratief” is en dat minderhede eerder bemagtig en beskerm word.

Die forum se 19de sitting vind vandag en môre plaas en fokus op die bevordering van minderheidsregte deur middel van streeksinisiatiewe en samewerking. AfriForum het benewens sy mondelinge voorlegging vandag ook ’n verslag getiteld “The world must know 2026: Advancing minority rights and fostering intercultural relations and cooperation amid the persecution of minority communities” aan die forum oorhandig. AfriForum geniet sedert 2020 spesiale raadgewende lidstatus by ECOSOC (die VN se Ekonomiese en Maatskaplike Raad) wat aan die organisasie toegang bied tot verskeie VN-menseregteprosesse, insluitende die Forum vir Minderheidsaangeleenthede.

Werner Human, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof, woon die sitting by. Hy het in sy voorlegging lig gewerp op die deurlopende en praktiese wyses waarop die regte van Suid-Afrikaanse minderhede bedreig word. Voorbeelde van dié bedreigings sluit onder meer in: die diskriminerende toepassing van 145 raswette; die voorkoms van haatlike en gewelddadige politieke retoriek gemik op Afrikaners en ander minderhede; die miskenning van plaasaanvalle en gepaardgaande marteling van slagoffers en die afwesigheid van die politieke wil om hierdie unieke misdaad te prioritiseer; en die implementering van wetgewing wat daarop gemik is om Afrikaans uit openbare skole te verwyder.  

“Die beskerming van minderheidsregte word nie bepaal deur dit wat die Grondwet op papier waarborg nie, maar deur of gemeenskappe die vryheid en vermoë het om daardie regte uit te oefen,” verduidelik Human. “Die Suid-Afrikaanse regering se repliek op AfriForum se voorlegging vandag het aangevoer dat ons konstitusionele demokrasie geanker is in die oppergesag van die reg en dat die Grondwet ruimte bied vir die beskerming van gemeenskappe, maar misken die feit dat die beloftes van die Grondwet in die praktyk nie waarborge bied vir minderhede nie en dat minderhede se daaglikse ervarings hemelsbreed verskil van dit wat die Grondwet se bedoelings is.”

Hy hou vol dat die uitoefening van verskeie minderhede se regte tans in Suid-Afrika bedreig word. “Die regering se ontkenning van hierdie bedreiging sal nie die werklikheid verander nie, en dit sal beslis nie dié wat daaroor praat, stilmaak nie. Die bedreiging van minderhede se regte is boonop nie ’n lot wat net Afrikaners tref nie – dit verswak ook die volhoubare voortbestaan van alle kultuurgemeenskappe in die land.”

Werner Human, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, met die verslag wat vandag by die VN ingedien is.

In die verslag wat Human aan die forum oorhandig het, word die uitdagings waarmee minderhede in Suid-Afrika te kampe het meer breedvoerig uiteengesit. Daarin word daarop gewys dat Afrika nie oor ’n spesifieke minderheidsregte-verdrag beskik nie, Suid-Afrikaners nie die Afrika-hof direk kan nader nie, en dat die werksaamhede van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) reeds sedert 2011 opgeskort is.

Die VN het volgens AfriForum ’n rol om te speel en ’n verantwoordelikheid om die bedreiging van minderheidsregte die hoof te bied. AfriForum het daarom aanbeveel dat:

  • die VN by state aandring op die beskerming van minderheidsregte en onafhanklike gemeenskapsinstellings;
  • Suid-Afrika direkte toegang tot die Afrika-hof moet kry en die SAOG-tribunaal herstel word;
  • die Afrika-kommissie sy minderheidsregte-mandaat versterk; en
  • die VN die vrywillige samewerking en wedersydse erkenning tussen kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika erken en ondersteun.

Human benadruk egter dat gemeenskappe nie as passiewe toeskouers moet wag op uitkomste nie. Daarom neem minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika toenemend self verantwoordelikheid waar streeks- en nasionale middele faal. AfriForum se samewerking met ander kultuurgemeenskappe – waardeur gefokus word op landbou-ontwikkeling, die bevordering van erfenis, kultuur en taal en gemeenskappe se vermoë om self vir hul veiligheid en toekoms te sorg – dien as voorbeeld hiervan. Die Kultuurgemeenskappe Netwerk, wat in 2025 deur AfriForum en meer as 30 kultuurgemeenskappe op die been gebring is, en wat fokus op verwesenliking van kultuurregte en sosio-ekonomiese ontwikkeling, toon ook hoe diverse kultuurgemeenskappe in die land samewerking op grondvlak wil bevorder.  

Werner Human, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, hanteer AfriForum se voorlegging by die forum.
Die Suid-Afrikaanse regering se repliek op AfriForum se voorlegging.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners, Veiligheid, Magsmisbruik