AfriForum doen ’n beroep op Mothibi om vertragings in sake teen Mbalula en Malema te beëindig
Wanneer gaan ’n datum vasgestel word waarop Fikile Mbalula en Julius Malema hul eerste hofverskynings moet maak? Dít is die vraag wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan adv. Andy Mothibi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, in ’n brief gestel het. Die eenheid het verlede maand – dus nog voor die verkiesing – bevestig dat die ANC se sekretaris-generaal en die EFF-leier onderskeidelik gedagvaar is om in die Johannesburgse Landdroshof te verskyn op aanklagte van crimen injuria in verband met die saak van Jaco Pieterse, die voormalige skoolhoof van Bergview College. Die dagvaardings is egter teruggehou nadat Mbalula en Malema vertoë aan Mothibi gerig het. Die eenheid, wat Pieterse verteenwoordig, het Mothibi nou gevra wanneer die vertoë afgehandel sal word en wanneer hulle weer gedagvaar sal word om in die hof te verskyn.
In korrespondensie aan Mothibi sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat die eenheid ’n verdagte se grondwetlike reg erken om vertoë te rig en om te versoek dat ’n vervolgingsbesluit heroorweeg word. “Ons erken eweneens die vervolgingsgesag se plig om sulke vertoë regverdig en objektief te oorweeg. Ons wil egter met respek beklemtoon dat die beweerde misdrywe uit 2025 dateer en dat die skade en benadeling wat ons kliënt ervaar, steeds voortduur. Die voortdurende onsekerheid oor die vervolging van hierdie saak verleng bloot hierdie benadeling.
“Ons is ook bewus van die heersende politieke klimaat en die feit dat Mbalula en Malema albei prominente posisies in die openbaar en politiek beklee. Juis in omstandighede soos hierdie is die onafhanklikheid, onpartydigheid en konsekwentheid van vervolgingsbesluitneming besonder belangrik. ’n Besluit om nie te vervolg nie, of ’n onredelike vertraging om ’n finale besluit te neem, kan die persepsie skep dat persone in politieke magsposisies anders as gewone lede van die publiek behandel word. So ’n persepsie, ongeag of dit geregverdig is of nie, kan openbare vertroue in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die regspleging ondermyn,” sê Nel.
Mbalula en Malema staan tereg op aanklagte van crimen injuria omdat hulle Pieterse valslik as ’n kinderverkragter uitgekryt het. Wat Mbalula betref, het adv. Andrew Chauke, die Gautengse Direkteur van Openbare Vervolgings, die verdagte se vertoë tereg verwerp. Hy het Mbalula se regspan ingelig dat sy kantoor van mening is dat daar ’n prima facie-saak teen Mbalula bestaan en dat die saak deur ’n bevoegde hof beslis moet word.
Chauke het ook die verdagte se ongegronde bewering dat die saak polities gemotiveer is, tereg verwerp. Hy het sy regspan ingelig dat sy kantoor die strafregtelike dossier deeglik bestudeer het en sy besluit op regsbeginsels en feite gegrond het. Hy het dit duidelik gestel dat geen politieke invloed en/of motivering by die besluit betrokke was nie.
Die eenheid het Mothibi versoek om dringend op die korrespondensie te reageer en te verseker dat die sake sonder verdere vertraging op die rol geplaas word.



