AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om saam te werk om artikel 235 te verdedig
AfriForum doen ’n beroep op kultuur- en ander gemeenskappe en hul leiers om in gemeenskaplike belang saam te werk om te verseker dat artikel 235 van die Grondwet behou word. Dié beroep volg in reaksie op Mzwanele Manyi, MK-party (MKP)-LP, se kennisgewing van sy voorgenome 24ste Grondwetlike wysigingswetsontwerp wat daarop gemik is om artikel 235 van die Grondwet te herroep en derhalwe alle kultuur- en ander gemeenskappe van die reg op selfbeskikking te stroop. AfriForum het Sondag (26 April 2026) amptelike kommentaar hierop ingedien.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum is die voorgestelde wysiging ’n aanval op alle kultuur- en ander gemeenskappe wat selfstandigheid, kulturele outonomie en selfbeskikking, in ooreenstemming met die Grondwet en internasionale reg, nastreef. Uys wys verder daarop dat die herroeping van artikel 235 in stryd sal wees met artikels 20 en 28 van die Afrika-handves van Mense- en Volkeregte (ACHPR), artikels 1, 5 en 27 van Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR) sowel as artikels 3, 4 en 8 van die VN se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP).
AfriForum is ten sterkste gekant teen die herroeping van artikel 235 en stel voor dat dit onveranderd behou word om onder meer die volgende redes:
- Artikel 235 van die Grondwet, wat die “konsep van die reg van enige gemeenskap wat ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse” erken, is in ooreenstemming met die ACHPR, UNDRIP en ICCPR.
- Die MKPhandel in stryd met die ACHPR, UNDRIP en ICCPR deur hierdie handeling wat daarop gemik is om die reg op selfbeskikking, soos erken deur artikel 235, te vernietig.
- Aksies wat gemeenskappe op voetsoolvlak en koninklike leiers tans aanpak, val binne die bestek van artikel 235, en die MKP is duidelik uit voeling met die prioriteite, strewes en werklikhede van die kultuur- en ander gemeenskappe in die land.
- Hierdie en vorige voorgestelde grondwetwysigings deur die MKP is gemik op verhoogde staatsmag en sentralisme ten koste van die vryheid en regte van gemeenskappe en individue.
- Hierdie poging om artikel 235 van die Grondwet te skrap, is ’n gevaarlike afwyking van die onderhandelde skikking wat die totstandkoming van die huidige Suid-Afrikaanse bedeling moontlik gemaak het.
Volgens Uys het die MKP in die parlement aangevoer dat artikel 235 van die Grondwet geskrap moet word omdat Afrikanergemeenskappe, soos Orania, dié artikel misbruik om hul bestaan te regverdig. “Dit is egter duidelik dat hierdie argument bloot as ’n rookskerm dien vir aksies wat daarop gemik is om kultuurgemeenskappe, kultuurregte en eiendomsreg te vernietig. Die uiteindelike doel is die vestiging van ’n hoogs gesentraliseerde, outoritêre staat waarin politici alle mag beklee, terwyl gemeenskappe, tradisionele leiers en individue slegs baie beperkte vryheid, regte en mag behou. Hierdie outoritêre oogmerk word glashelder wanneer die voorgestelde skrapping van artikel 235 saamgelees word met Manyi se 22ste wysigingswetsontwerp op die Grondwet, wat privaateiendomsreg wil afskaf en die staat die voog van alle grond en natuurlike hulpbronne wil maak deur artikel 25 van die Grondwet te wysig.”
“Die MKP beweer dat artikel 235 nie eie aan Afrika is nie, en dat die beskerming van individuele regte ’n waarborg vir kultuur- en groepsregte is. Die ACHPR neem met wysheid beide individuele en groepsregte in beskerming, en beskou selfbeskikking as ’n onvervreembare reg – dit is duidelik dat dit in werklikheid die MKP is wat nie eie aan Afrika is nie,” sluit Uys af.



