Dagbreek-manskoshuis van Stellies bobaas by vanjaar se Dink of Sink-debatskompetisie vir universiteitstudente
Die Dagbreek-manskoshuis aan die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar stof in hul teenstanders se oë geskop tydens die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente. Twee spanne aan dié koshuis is die afgelope naweek as onderskeidelik die wenner en naaswenner van dié kompetisie gekroon, nadat hulle in hul finale debat teen mekaar te staan gekom het.
Die uitdun- en uitkloprondes het op onderskeidelik 24 en 25 April by Aros in Pretoria plaasgevind waar al 12 deelnemende spanne aan drie debatte deelgeneem het. Daarna het die topagtspanne na die uitkloprondes deurgedring.
Vanjaar se mosies het gefokus op politiek en regte, ekonomie, filosofie en taal. Die 12 spanne van StudentePlein en Dagbreek-manskoshuis aan die US, Universiteit van Pretoria (UP), Noordwes-Universiteit en Akademia het hul debatsvaardighede gewys deur hierdie uitdagende mosies binne een uur se voorbereiding baas te raak.
“Die vlak van analitiese denke en retoriese vaardigheid wat deelnemers tydens die debatte ten toon gestel het, getuig van die uitsonderlike gehalte van akademiese debat onder ons jong leiers,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.
Gedurende die gala-aand het die toptweespanne (Dagbreek 1 en Dagbreek 2) oor die mosie “Hierdie huis glo dat politieke leiers strafregtelik aanspreeklik gehou moet word, selfs al destabiliseer dit die politieke landskap” gedebatteer. Die Klein Blou Tongetjies van Dagbreek 2, waarvan Adriaan Nel, Rudolph Jordaan, Artho Saayman en Christiaan Burger ’n debatteerder was, het koning gekraai by vanjaar se Dink of Sink-debatskompetisie vir universiteitstudente. Die Blou Tonge van Dagbreek 1, wat bestaan het uit Christiaan van der Merwe, Steffan Thielen, Hechter Ferreira en Jacques Ferreira, is as die naaswenners aangekondig.
Vier spesiale pryse is ook toegeken aan verskeie studente wat aan die kompetisie deelgeneem het. Die volgende studente het pryse ontvang:
- Hechter Ferreira van Dagbreek 1 vir beste spreker.
- Anje van Jaarsveld van die UP Debatsvereniging vir retoriek.
- Brenton Eastes van Akademia 2 vir navorsing.
- Adriaan Nel van Dagbreek 2 ontvang die “Wooden Bell”-prys as die debatteerder wat tydens die uitdunrondes vir die beoordelaars uitgestaan het.
“Dink of Sink is meer as net ’n kompetisie; dit is ’n platform waar jong denkers hul stem vind, mekaar uitdaag en die toekoms van openbare debat vorm,” sluit Müller af.
AfriForum bedank graag Hurter Spies Ingelyf, Netwerk24 en AfriForum Jeug vir die onderskeie borge aan vanjaar se kompetisie.





