| | |

Privaatvervolgingseenheid rig soeklig op polisie se beweerde toesmeerdery van straatrenne

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Die onlangse noodlottige ongeluk tydens ’n onwettige straatren op Steve Biko-weg in Gezina, Pretoria, het bewerings blootgelê van ’n toesmeerdery in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om die betrokkenes te beskerm. Dit het ook ernstige vrae laat ontstaan oor wetstoepassers se moontlike betrokkenheid by die organisering en bestuur van hierdie weeklikse byeenkomste. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Frieda Bezuidenhout, wie se seun, Phillip, ’n  passasier in ’n Honda Ballade was wat op 3 Mei aan ’n straatren deelgeneem het. Phillip is dood nadat die motor met ’n onbetrokke motoris se Renault gebots het voordat dit teen ’n paal tot stilstand gekom het. Die Honda-bestuurder, Willie Momberg, sowel as die bestuurder van die Renault, het oorleef. Bezuidenhout se familie is in kennis gestel dat die SAPD ’n saak van strafbare manslag teen die bestuurder van die Renault ondersoek.

Daardie gedeelte van die pad word al dekades lank vir onwettige straatrenne gebruik en het al talle noodlottige ongelukke tot gevolg gehad. Tog bly dié aktiwiteit onverpoosd voortduur. Die inligting en bewyse wat die privaatvervolgingseenheid nou aan die SAPD verskaf het, kan verduidelik hoe die aktiewe betrokkenheid van sommige wetstoepassingsbeamptes moontlik bygedra het tot hierdie florerende en dodelike subkultuur van vinnige motors en kragtige enjins.

Beeldmateriaal wat wys hoe ’n maroen Honda Ballade teen ’n hoë spoed met ’n wit Renault bots, is wyd op sosiale media gedeel. Nuwe beeldmateriaal wat na vore gekom het, wys hoe ’n persoon – wie se identiteit bekend is – die beseerde Renault-bestuurder aanrand voor SAPD-beamptes wat, onverklaarbaar, binne sekondes ná die ongeluk op die toneel was. Daar word beweer dat sommige SAPD-beamptes moontlik deel is van ’n netwerk van mense wat betrokke is by onwettige straatrenne en die organisering van hierdie byeenkomste. Verskeie van die gereelde deelnemers wat blykbaar in die openbaar met sommige van die SAPD-beamptes geassosieer word, spog openlik oor hul optrede op sosiale media en nooi selfs ander uit om aan te sluit deur die datums, tye en liggings van die straatrenne te verskaf.

In ’n brief aan die SAPD sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat die deelnemers aan onwettige straatrenne geen vrees toon dat die owerhede teen hierdie praktyk sal optree nie. “Wetstoepassers se versuim om te verhoed dat straatrenne op ’n openbare pad gehou word terwyl ander voertuie steeds toegang tot daardie pad het, is nie net afkeurenswaardig nie, maar kan ook die argument versterk dat wetstoepassers medepligtig was aan die roekelose wetteloosheid wat nóg ’n lewe geëis het. Lede van die publiek moet openbare paaie enige tyd van die dag kan gebruik sonder die vrees dat renvoertuie hul veiligheid in gevaar sal stel,” sê Nel.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê die feit dat honderde toeskouers elke Sondag bymekaarkom om hierdie onwettige straatrenne te aanskou, die onvermydelike gevolgtrekking skep dat wetstoepassing betrokke is of ten minste ’n blinde oog daarvoor draai. “Hierdie straatren op hierdie spesifieke pad was nie ’n eenmalige of uitsonderlike gebeurtenis nie, maar eerder deel van ’n gevestigde en georganiseerde praktyk van Sondag-padwedrenne wat deur lede van die SAPD toegelaat en selfs ondersteun word.

“Die inligting en bewyse wat ons ingesamel het, onthul ’n goed gedokumenteerde – en selfs arrogante – vertoning van wetteloosheid op openbare paaie deur ’n groep mense wat verbind word deur ’n straatren-subkultuur wat in die noorde van Pretoria floreer. Die sosialemediarekeninge van verskeie deelnemers bevat bewyse van nie net hul straatrenne op Steve Biko-weg nie, maar ook van algemene roekelose en gevaarlike bestuur op openbare paaie in hul kragtige voertuie. Gegewe die spoed en doeltreffendheid waarmee die SAPD onlangs sosialemediabewyse in ’n wyd gepubliseerde saak teen ’n politikus bekom het, moet die publiek dieselfde dringendheid verwag om bewyse te bekom waar die betrokke optrede tot onskuldige motoriste en voetgangers se dood kan lei of tot ernstig beserings. Sou die SAPD versuim om dit te doen, sal dit ongetwyfeld vermoedens van SAPD-betrokkenheid of ’n toesmeerdery bevestig,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik