Akademia se eerste musiekblyspel binnekort op die planke
Daai kleindorpiegevoel, Akademia se eerste musiekblyspel, kom binnekort op die planke in die Centurion Teater. Die aanbieding van dié musiekblyspel is ’n opwindende nuwe hoofstuk in die verhaal van dié Afrikaanse universiteit wat nie net tot die studentebelewenis sal bydra nie, maar ook die eertydse musiekblyspeltradisie op hoëronderwysvlak sal laat herleef. Daai kleindorpiegevoel is ’n Inhoud Huis Musiek-produksie en die konsep en storielyn daarvan is onder leiding van die gesoute musiekteater-paar Jacomien de Wet en Johan Vorster ontwikkel. Vorster en Arnold de Wet is verantwoordelik vir die musiekverwerkings, terwyl Jannes Erasmus die teks en regie behartig het.
Waaroor gaan die musiekblyspel?
Pieter se motor gee net buite die klein dorpie Stofpan probleme. Hy hoop om gou weer die pad te vat, maar bly uiteindelik vir drie weke lank op Tannie Pompie se plaas. Wat begin as ’n noodgedwonge wegbreek, ontaard in ’n reis van ontdekking gevul met liefde en ’n gemeenskap wat sy lewe onherroeplik verander.
Daar is uitdagings op die plaas met die slinkse burgemeester wat ’n oog daarop het en eksentrieke dorpenaars wat almal bydra tot ’n onvergeetlike storie. Pieter leer opnuut dat die belangrikste dinge in die lewe nie gekoop kan word nie en binnekort moet hy besluit of hy na sy ou lewe gaan terugkeer of ’n kans gaan waag op iets wat hy nie sien kom het nie.
Studente doen dit self
’n Totaal van 85 Akademia-studente help om Daai kleindorpiegevoel op die planke te bring. Die geselskap bestaan uit agt hoofkarakters – Pieter, Katrientjie, Tannie Pompie, Ronnie Bester, Oom Bert, Marno, Spanner en Tjokkie – sowel as 27 byspelers en 50 studente wat tegniese rolle, insluitende dié van verhoogbestuurder, dekor, klank, kostuums en beligting, vervul.
Die produksie is een van net enkele hoëronderwys- Afrikaanse musiekblyspele wat in die afgelope paar jaar aangebied is en volgens dr. Heleen Coetzee, hoof van Studentesake by Akademia, verteenwoordig dit ’n viering van studentwees en ’n opwindende nuwe vormingsbousteen vir studente. Sy vertel dat meer as 60 studente vir die oudisies opgedaag het en dat die oudisieperiode ná net drie ure gesluit is. “Dit is ons droom om volgende jaar hierdie produksie na die Paarl-kampus te neem en só ook die Wes-Kaapse Fonties te betrek,” sê sy.
Vir Keynan Fox, wat die rol van Pieter vertolk, is die produksie meer as net nog ’n verhoogervaring. “Omdat dit my finale jaar by Akademia is, voel hierdie musiekblyspel soos ’n wonderlike afsluiting van my naskoolse verhoogloopbaan. Om boonop saam met professionele kenners te werk, is ’n ongelooflike leergeleentheid en ek het ’n gevoel dat hierdie produksie ’n reusesukses gaan wees!” sê hy.

Vorster het al met van die grootste name in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf gewerk, maar volgens hom vat dit veel meer as ’n goeie akteur of twee om ’n sukses van ’n produksie te maak. “Dit gaan nie altyd oor die beste sangers en akteurs nie, maar oor die regte groep om die legkaart mee te bou. Ons is oortuig daarvan dat ons daardie wenkombinasie gevind het,” verduidelik hy.
Erasmus meen gehore gaan lekker lag en verlief raak op Stofpan en sy mense. “Daai kleindorpiegevoel is propvol humor, romanse en musiek wat lank ná die ligte uitgedoof het, by jou sal bly,” sê hy.
Die produksie is van 3 tot 10 Oktober op die planke in die Centurion Teater. Kaartjies beloop R220 per persoon en sal binnekort by die Centurion Teater of op Quicket beskikbaar wees. Kry hier ’n voorsmakie.



