|

AfriForum-buurtspan herstel binne net één maand 10 ton se slaggate in Klerksdorp

AfriForum se Klerksdorp-buurtspan het slaggate in dié stad die afgelope maand behoorlik laat les opsê en 10 ton gruis en bitumen ingespan om 60 slaggate in dié stad te herstel. Dié slaggatherstelprojek vorm deel van die span se groter regrukaksie waartydens verskeie instandhoudings- en veiligheidsprojekte in Junie in Wilkoppies en Flamwood aangepak is.

Benewens die herstel van slaggate, het die span ook openbare ruimtes skoongemaak en gehelp om twee veldbrande onder beheer te bring en skade aan eiendom en die omgewing te beperk.

Die buurtspan pak tans skoonmaak- en instandhoudingswerk in Buffeldoornweg en Centrallaan en fokus op die opknapping van dié strate en verkeerseilande.

Volgens SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, getuig die buurtspan se volgehoue teenwoordigheid in die gemeenskap van hul toewyding om die dorp netjies en leefbaar te hou. Hy meen egter dat elke vrywilliger en ondersteuner se bydrae help om van dié sukses ’n realiteit te maak. “Ons is dankbaar vir elkeen wat tyd, energie en hulpbronne beskikbaarstel vir die uitvoering van hierdie projekte. Deur saam te werk, word daar elke dag ’n sigbare verskil gemaak om Klerksdorp ’n skoner, veiliger en aangenamer plek vir almal te maak,” verduidelik hy.

Die span se vermoë het intussen ook vandeesmaand ’n hupstoot gekry met die aankope van nuwe toerusting. Scott beklemtoon dat hierdie aankope die span in staat sal stel om instandhoudingswerk meer doeltreffend uit te voer.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier-distrik, hou vol dat die gemeenskap se betrokkenheid in instandhoudingsprojekte soos dié noodsaaklik is. “Die enigste manier waarop ons stad weer ’n spogstad sal word, is wanneer die inwoners hande vat en die probleem saam takel. AfriForum gee die ‘voertuig’ om dié werk gedoen te kry. Die gemeenskap moet nou net van hierdie geleentheid gebruik maak en deel word van die regrukplan vir Klerksdorp,” sluit Pretorius af.

Laat weet ons waar opknapping, instandhouding en skoonmaakwerk in jou buurt benodig word. Kontak Romke de Jongh (074 429 7777) vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf