|

AfriForum gereed vir hofstryd teen Graaff-Reinet-naamsverandering

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

AfriForum is gereed vir ’n hofstryd teen die naamsverandering van Graaff-Reinet. Die aansoek is reeds in Mei vanjaar geliasseer, maar die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se regspan het nou eers aangedui dat die minister en die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad van voorneme is om die aansoek te opponeer.

AfriForum se aansoek het gevolg op Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, se aankondiging in die Staatskoerant van 6 Februarie 2026 dat die dorp voortaan Robert Sobukwe-dorp sal heet. Die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name 118 van 1998 maak voorsiening vir besware wat binne 30 dae ná die publikasie van ’n naamsverandering aangeteken mag word. AfriForum het dus op 16 Februarie 2026 ’n prokureursbrief aan die minister gestuur met beswaar teen die naamsverandering van Graaff-Reinet. Nadat die brief onbeantwoord gebly het, is die aansoek in Mei by die Hooggeregshof in Pretoria geliasseer. Aanvanklik is geen kennisgewing ontvang dat die aansoek geopponeer gaan word nie. Nadat die saak egter op die ongeopponeerde rol geplaas is, is hierdie kennisgewing pas van die respondente ontvang.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, berus dié burgerregteorganisasie se beswaar onder meer daarop dat die Oos-Kaapse provinsiale beleid wat pleknaambenoeming reguleer, beklemtoon dat die naamsverandering van plekke van besondere historiese betekenis net in uitsonderlike gevalle oorweeg moet word. Wat Graaff-Reinet betref, wat sedert die ontstaan van die dorp 240 jaar gelede hierdie naam dra, kan geen sodanige omstandighede volgens AfriForum gevind word nie. In teenstelling met die beleid, dui die verandering ook daarop dat die nodige oorweging nie aan die bewaring van die dorp se historiese en kulturele erfenis geskenk is nie.

Verder het ’n omvattende studie aangetoon dat die meerderheid van die dorp se inwoners teen die naamsverandering gekant is. AfriForum voer ook aan dat die proses van naamsverandering ongrondwetlik is, soos die departement se eie proses om die betrokke wetgewing te hersien, tans skynbaar bevestig.

“Naamsveranderinge het ’n maklike manier geword vir politici om die wanindruk te skep dat hulle kragdadig optree, terwyl hulle eintlik die plekke waarvan die name verander word en die land se kultuurgeskiedenis minag en belastinggeld wat ten bate van die inwoners aangewend kon word, vermors. Ons kan dit nie langer toelaat nie, veral nie wanneer ’n pleknaam met die historiese gewig van Graaff-Reinet ter sprake is nie,” meen sy.

Johann Harmse, voorsitter van AfriForum se Graaff-Reinet-tak, noem dat die inwoners besorg is oor die onberekenbare skade aan die kultuurhistoriese inhoud van die naam, die toerismebedryf, die plaaslike ekonomie en verhoudings tussen gemeenskappe wat die naamsverandering kan aanrig. “Die inwoners het reeds aangedui hoe sterk hulle teen enige verandering gekant is en ons stemme verdien om gehoor te word,” sê hy.

AfriForum se regspan wag nou dat die stukke van die respondente geliasseer word en ’n hofdatum bekendgemaak word.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners