| | |

AfriForum dagvaar president en kie oor grondwetlikheid van NGV-wet

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

AfriForum het vandag ’n dagvaarding aan president Cyril Ramaphosa en dr. Aaron Motsoaledi, minister van Gesondheid, laat beteken as deel van die organisasie se regsaksie om die grondwetlikheid van die omstrede Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te betwis. Die stap is vandag tydens ’n mediakonferensie by die vervalle Kempton Park Hospitaal aangekondig as ’n waarskuwing van dit wat op die land se gesondheidsektor kan wag sou NGV in werking gestel word.  

Hoewel ander instellings reeds regstappe teen dié wet ingestel het, is dié aksieproses die eerste van sy soort teen die wet. AfriForum se dagvaarding voer ’n omvattende aanslag teen die NGV-wet en wys op die ongrondwetlikheid van verskeie bepalings daarin. Die aksieproses bied onder meer die geleentheid om deskundige getuienis in die hof te lewer indien daar dispute oor die feite voorkom.

Wian Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger in die saak, sê AfriForum se regsaksie berus daarop dat die NGV-wet in stryd met die Grondwet is en daarom ongeldig verklaar en terug na die parlement verwys moet word.

Enkele punte van ongrondwetlikheid waarteen AfriForum beswaar maak, sluit in:

  • Die verwatering van provinsiale regerings se grondwetlike magte.
  • Die inperking van pasiënte se vryheid van keuse.
  • Die inperking van die kliniese onafhanklikheid van gesondheidspraktisyns.
  • Die gebrek aan rasionaliteit van die NGV-raamwerk weens die ekonomiese onwerkbaarheid daarvan.

Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, wys daarop dat die NGV-wet bepalings bevat wat nie net die grondwetlike regte van AfriForum se lede raak nie, maar ook dié van die publiek in die algemeen.

“Alle landsburgers en Afrikaners in besonder was al slagoffers van die ANC se ideologiese agenda. NGV is weer so ’n geval. Die ANC het reeds oorgenoeg bewyse ontvang dat dit nie mense se gesondheidsorg sal verbeter nie, maar hulle bly verkleef daaraan weens ideologiese redes. Dís waarom AfriForum dit nie kan laat voortgaan nie,” sê Van Zyl.

In die lig van Suid-Afrika se huidige politieke en ekonomiese klimaat sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor gesondheid, dat NGV heeltemal onwerkbaar is. Volgens Boshoff is die slegste ding wat belastingbetalers nou kan tref die toewysing van fondse – ekwivalent aan 10% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk – aan ’n gesondheidsorgstelsel wat nooit effektief sal funksioneer nie.

“Die ware koste van NGV sal egter veel meer wees as die blote randwaarde daarvan. Die verlies aan onder meer grondwetlike regte en pasiënte se vryheid van keuse sal veroorsaak dat daar uiteindelik ’n veel hoër prys betaal word,” sluit Boshoff af.

Besoek www.jougesondheid.co.za om meer uit te vind oor AfriForum se veldtog teen NGV.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik