AfriForum bied hommeltuie ná Krugerwildtuin-tragedie; eis duidelike plan om besoekers te beveilig
AfriForum het die praktiese ondersteuning van sy gemeenskapsveiligheidstrukture, insluitend die gebruik van sy hommeltuie, aan die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, SANParke en die relevante wetstoepassingsowerhede gebied ná die tragiese dood van twee toeriste in die noordelike deel van die Krugerwildtuin. In ’n brief aan die betrokke owerhede het die burgerregteorganisasie die hommeltuie tot sy beskikking beskikbaar gestel, asook sy gemeenskapsveiligheidstrukture en koördineringsvermoë in ’n poging om die Krugerwildtuin te help beveilig.
Hierdie voorval het die land geruk en ernstige vrae laat ontstaan oor veiligheid, kontrole en die reaksievermoë by een van Suid-Afrika se belangrikste toerisme- en erfenisterreine. AfriForum beskik oor uitgebreide ervaring op die gebied van gemeenskapsveiligheid en het die vermoë om op ’n konstruktiewe en verantwoordelike wyse ondersteuning aan owerhede, die families van die slagoffers, besoekers aan die park en die breër publiek te bied.
“Die Krugerwildtuin is nie net ’n nasionale skat nie, maar ook een van die land se belangrikste bates. Die veiligheid van besoekers aan dié park moet as ’n saak van nasionale belang hanteer word. AfriForum staan daarom gereed om praktiese hulpbronne binne ons vermoë te verskaf indien die owerhede bereid is om saam te werk,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
AfriForum doen ook ’n beroep op die departement en SANParke om ’n duidelike plan bekend te maak oor hoe veiligheidstandaarde regoor die Krugerwildtuin verbeter gaan word, veral in afgeleë gebiede waar monitering en vinnige reaksie ’n uitdaging is. Volgens AfriForum behoort hierdie plan verhoogde patrollies, verbeterde toesig, vinniger noodreaksieprosedures, duideliker kommunikasiekanale vir besoekers en beter samewerking tussen veiligheidsrolspelers in te sluit. AfriForum is van mening dat owerhede dringend, deursigtig en doelgerig moet optree om openbare vertroue te herstel en te verseker dat besoekers aan die Krugerwildtuin beskerm word.
“Samewerking tussen die regering, SANParke, wetstoepassing en verantwoordelike burgerlike organisasies is noodsaaklik om die veiligheidsrisiko’s waarmee nasionale erfenisterreine te kampe het, die hoof te bied. Indien daar leemtes in toesig, patrollies of noodreaksie bestaan, moet dit onmiddellik geïdentifiseer en aangespreek word. AfriForum is bereid om deel van die oplossing te wees,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.



