| | |

Eer die nalatenskap van voorgeslagte deur toegewyde, beginselvaste werk op Afrika-dag

Klankgreep: Barend Uys (Afrikaans)
Klankgreep: Barend Uys (Engels)

AfriForum doen ’n beroep op kultuurgemeenskappe en burgerlike organisasies om die nalatenskap van vorige geslagte te eer deur toegewyde werk wat daarop gemik is om ’n mooi toekoms vir die kinders van Afrika te verseker en opnuut te fokus op die versterking van kulturele identiteit, vryheid en geregtigheid. AfriForum het die beroep gedoen tydens die viering van Afrika-dag op 25 Mei, die dag waarop die vestiging van die Afrika-Unie gedenk word.

AfriForum werk met toewyding om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners, in vreedsame naasbestaan met ander kultuurgemeenskappe, aan die suidpunt van Afrika te verseker. Daarom vestig AfriForum goeie verhoudings en samewerking, op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, met ander kultuurgemeenskappe en pak gesamentlike projekte op voetsoolvlak aan wat kulturele identiteit en gemeenskapselfstandigheid en -selfversorgenheid versterk. “Ons kan ons moeilike verlede nie verander nie, self al sou ons ook hoe graag wou. Die toekoms, aan die ander kant, lê wel in ons hande – daarop fokus ons; ons kies vir voortbestaan in geregtigheid,” sê Barend Uys, Hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

“Afrika het aan die Afrikaner geboorte geskenk, ons het geen ander tuiste nie. Daarom is dit vir ons ’n voorreg om met toewyding saam te werk om ’n toekoms vir ons kinders en die kinders van ander kultuurgemeenskappe te verseker. Afrika en haar mense het geweldige potensiaal en ons glo dat die volle potensiaal van ons mooi kontinent ontsluit kan word deur gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem, ’n gesonde kulturele selfbeeld en -selfversekering herbou en koester, gemeenskapselfstandigheid versterk en saamwerk met ander gemeenskappe waar dit moontlik is. Ons gedenk ook vandag die voorgeslagte wat soveel opgeoffer het om te verseker dat ons almal vandag hier ’n plek kan hê,” sluit Uys af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners