“Vat jou goed en trek, Victoria”
Deur Ilze Nieuwoudt, hoof van Media by AfriForum
Soms is dit nodig om erkenning te gee aan dié wat dit toekom. Toegegee, wanneer dit kom by die sukkelende Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit wat (probeer) heers oor ’n lap Vrystaatse aarde van nagenoeg 7 000 km2 met dorpe soos Parys, Heilbron en Vredefort, is daar nie veel wat erkenning verdien nie. Tog verdien Ngwathe-munisipaliteit se burgemeester, Victoria de Beer, ’n pluimpie; sy kén van uithou.
Dié blindelingse uithou kom egter ten koste van die inwoners van dié geweste. Boonop is die prys wat betaal word vir die burgemeester se naarstigtelike vasklou aan mag só duur dat die hof nou al opdrag gegee het dat sy en haar raad moet oppak en plekmaak vir die provinsie om in te gryp en red wat te redde is. Stééds gee De Beer nie bes nie en klou sy verbete vas aan die burgemeesterstoel in Parys.
Die burgerregteorganisasie AfriForum se aanmoediging vroeër vandeesweek aan De Beer om tog maar haar kantoor te ontruim, is kil ontvang en die bokse wat afgelewer is vir haar en die Ngwathe-raad se “groot trek”, is sonder verwyl weggeskop (sien die video hier). Dié aanmoediging volg volgens AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, Alta Pretorius, ná die Hooggeregshof in Bloemfontein op 20 Februarie in AfriForum se guns beslis het en bepaal het dat die hofbevel van 20 Junie 2025, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word. Kragtens die Junie 2025-bevel moet die munisipale raad ontbind en moet die provinsiale regering by die munisipaliteit ingryp.

Intussen is die munisipaliteit se voorlopige jaarverslag die afgelope week by die munisipale raadsvergadering voorgelê en ondanks De Beer en kie se bewerings dat die munisipaliteit sake met mening regruk, toon die verslag die nare feite van dit waarmee die sowat 135 000 inwoners van Ngwathe elke dag worstel. Volgens die verslag kon die munisipaliteit slegs vyf, oftewel 21,7%, van sy 23 teikens ten opsigte van basiese dienslewering en infrastruktuurontwikkeling haal. Dit het duidelik nie die munisipaliteit in die spandering van fondse vir dié dienste teruggehou nie, en hoewel slegs 21,7% van die teikens behaal is, is nagenoeg 72% van die begroting wat daarvoor geallokeer was, spandeer.

Dié powere prestasie strook met dit wat regter M. Opperman in Februarie in sy uitspraak benadruk het toe hy opdrag gegee het dat daar dringend by die Ngwathe-munisipaliteit ingegryp moet word. Volgens Opperman het “sistemiese tekortkominge” in dié munisipaliteit gelei tot die lewering van besoedelde water, herhaalde rioolstortings, finansiële insolvensie en gebrekkige bestuur. Hy het voorts benadruk dat daar ingevolge die Grondwet ’n verpligting is om by omstandighede soos dié in te gryp.

Terwyl die munisipaliteit met die een na die ander appèlsaak poog om die hof se beslissings om te keer, hoop die skuld en vrugtelose en verkwistende uitgawes op. Volgens die Ouditeur-generaal se verslag oor Ngwathe se finansiële state is daar in die 2024/2025-boekjaar nagenoeg R212 miljoen se vrugtelose, verkwistende en onregmatige uitgawes en meer as R400 miljoen se onreëlmatige uitgawes aangemeld.
As De Beer se Facebook-uitnodiging na die munisipaliteit se “Aerobics Sweat Fest” egter enigsins ’n aanduiding is, is swak finansiële bestuur, besoedelde drinkwater en rioolstortings skynbaar nie nou op dié burgemeester se radar nie. Hierdie naweek kan skoon drinkwater, slaggate en riool maar wag, vir eers is dit tyd vir rek en strek op Parys.



