AfriForum se aanbod om hulp sal waterkrisis in De Aar vinniger opklaar
Skaars 24 uur nadat De Aar se waterprobleme tot so mate versleg het dat krane heeltemal leeggeloop het, het AfriForum die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit genader en die burgerregteorganisasie se hulp aangebied om watervoorsiening aan inwoners te herstel.
Dit volg nadat inwoners sedert Sondag ernstige wateronderbrekings aangemeld het, glo omdat slegs ’n paar van dié munisipaliteit se sowat 40 boorgate in ’n werkende toestand is. Sommige woonbuurte se krane is reeds vir minstens twee dae droog, terwyl ander gebiede lae of wisselvallige waterdruk ervaar.
Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, sê daar is talle huishoudings wat beperkte of geen toegang tot alternatiewe waterpunte het nie. AfriForum het daarom op 12 Februarie reeds ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig om duidelikheid te kry oor die omvang van die wateruitdagings sodat ’n krisis soos dié verhoed kon word. Die munisipaliteit het egter tot op hede geen formele terugvoer oor die stand van sake gegee nie.
In AfriForum se jongste skrywe aan die munisipaliteit het die burgerregteorganisasie aangebied om, waar prakties moontlik, spesialiskennis, ondersteuning en moontlike oplossing te bied waar spesifieke tegniese, infrastruktuur- of operasionele uitdagings geïdentifiseer is. AfriForum ondersoek intussen die moontlikheid om ’n noodwaterpunt in die gebied op te rig sodat inwoners toegang tot skoon water kan hê wanneer dié soort onderbrekings plaasvind.
“Water is ’n basiese mensereg en geen gemeenskap behoort daarsonder te wees nie. AfriForum doen daarom ’n beroep op die munisipaliteit om sonder uitstel met ons en ander rolspelers in gesprek te tree sodat daar in die belang van die breër gemeenskap praktiese oplossings gevind kan word,” sê Smit.
AfriForum het intussen die situasie onder die aandag van die premier van die Noord-Kaap gebring. Die premier gaan vandeesweek De Aar besoek en AfriForum hoop dat owerhede die geleentheid sal gebruik om met die gemeenskap te skakel oor die huidige krisis én oor moontlike oplossings te beraadslaag.



