Strafregtelike vervolging wag op Julius Malema ná vals verkragtingsaantyging teen Bergview-skoolhoof
Julius Malema, leier van die EFF, sal strafregtelik vervolg word nadat hy ’n skoolhoof valslik van verkragting beskuldig het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het daarin geslaag om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te oortuig dat Malema weens crimen injuria vervolg moet word nadat hy Jaco Pieterse, voormalige hoof van Bergview College in Matatiele, as ’n reeksverkragter van kinders gebrandmerk het.
Pieterse het in Junie verlede jaar, met die steun van die eenheid, die strafregtelike klag by die Sophiatown-polisiestasie teen Malema ingedien. Nadat daar gesloer is met die besluit om Malema te vervolg, het die eenheid vertoë aan die NVG gerig.
Omdat Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en Fundile Gade, LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap, dieselfde valse aantyging teen Pieterse gemaak het, is soortgelyke strafregtelike klagte ook teen hulle ingedien.
Die klag teen Malema volg op uitlatings wat hy op 6 April 2025 gemaak het tydens die EFF se sogenaamde Land Reclamation Day-geleentheid by die Sophiatown Extreme Park in Johannesburg. Hiertydens het Malema in die openbaar beweer dat ’n skoolhoof ’n sewe-jarige skoolmeisie verkrag het en dat die hoof anders behandel word as ander verdagtes. Malema het ook gesuggereer dat die hoof moontlik al voorheen soortgelyke oortredings begaan het.
Die saak gaan oor ’n kind wat, luidens haar ma se bewerings, in Oktober 2024 by die Bergview College verkrag is. Pieterse en die skoolopsigter, wat ook deur die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig word, was vanaf November daardie jaar die teiken van ’n hewige sosialemediaveldtog ná die NVG besluit het om, weens ’n gebrek aan bewyse, nie die saak te vervolg nie. Die NVG het in Mei verlede jaar bevestig dat dit besluit het om niemand in verband met die beweerde verkragting te vervolg nie. Dié besluit is volgens die NVG se woordvoerder geneem omdat daar – ná die minderjarige meisie ondervra en deur mediese praktisyns en forensiese maatskaplike werkers ondersoek is – geen bewys van verkragting of seksuele aanranding was nie.
Advokaat Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het in sy vertoë wat op 18 Junie vanjaar aan die NVG gemaak is, verwys na gevalle waar Malema self die howe genader het ná hy in die openbaar as ’n dwelmhandelaar gebrandmerk is.
Volgens Nel het Malema self bewys dat hy ten volle besef watter ingrypende uitwerking valse aantygings van kriminele gedrag op ’n persoon se waardigheid het, omdat hy dit self ondervind het en die howe gevra het om in te gryp. Nel het voorts aangevoer dat Malema verstaan dat om valslik as ’n krimineel uitgekryt te word, die fundamentele mensereg op waardigheid skend en self ook aanvoer dat dergelike reg beskerming verdien.
Nel het daarbenewens aangevoer dat Malema vinnig opgetree het om sy waardigheid te beskerm toe ’n blogger beweer het dat die politikus en sy vrou huweliksprobleme ondervind en op die punt van ’n egskeiding staan. Nel het daarop gewys dat Malema se regspan beweer het dat dié aantygings sy kinders blootgestel het aan “emosionele skade en openbare blootstelling” (“emotional harm and public scrutiny”) en Malema blootgestel het aan “bespotting, spekulasie, vernedering en grootskaalse reputasieskade” (“’ridicule, speculation, humiliation and reputational harm on a mass scale”). Die hof was dit eens met Malema en het die blogger beveel om verskoning te vra en die bewerings terug te trek.
Malema het in dié geval – toe hy die aanmaningsbrief aan die blogger beteken het – ook gedreig om ’n strafregtelike klag van crimen injuria by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig te maak. Nel het derhalwe in sy vertoë tot die slotsom gekom dat Malema dus, al was hy deeglik bewus van sy eie reg op waardigheid en privaatheid, Pieterse sonder rede en in die openbaar ’n “verkragter” genoem het.
Pieterse het, nadat hy verneem het van die NVG se besluit om Malema te vervolg, gesê dat ’n swaar las van sy skouers afgeneem is en dat dié besluit hom ’n tree nader aan geregtigheid bring. “Die valse bewerings het my nie net benadeel nie, maar ook geweldige pyn vir my familie en vriende veroorsaak. Ek vertrou dat hierdie proses my naam sal suiwer en sal verseker dat daar aanspreeklikheid is vir diegene wat ander valslik daarvan beskuldig dat hulle afskuwelike misdade gepleeg het sonder om die gevolge van hul stellings in ag te neem. Ek hoop die howe stuur ’n sterk boodskap uit dat daar gevolge is vir die maak van sulke roekelose en skadelike bewerings. Ek het bewus geword van baie ander wat soortgelyke pyn ervaar het, en steeds daagliks ervaar, as gevolg van die onnadenkende gedrag van sogenaamde leiers. My hoop is dat hierdie saak gewone burgers teen politici en mense in magsposisies sal beskerm en dat aanspreeklikheid sal volg,” het Pieterse gesê.
Die hoofstaatsaanklaer van die Johannesburgse Landdroshof is nou opdrag gegee om vervolging teen Malema in te stel. Dit is nog nie bekend wanneer die saak op die rol geplaas sal word nie.
Hoewel die privaatvervolgingseenheid tevrede is met die besluit om Malema te vervolg, sal dit steeds voortgaan met samesprekings met die NVG om toe te sien dat Mbalula en Gade ook vervolg word. Die eenheid bly oortuig daarvan dat niemand vanweë hul politieke bande of status in die samelewing teen vervolging beskut mag word nie.



