|

AfriForum stuur ondersoek van stapel ná 9-jarige doodskok

AfriForum se Bothaville-tak en -buurtwag gaan ’n onafhanklike ondersoek van stapel stuur na die omstandighede rakende die onlangse dood van ’n 9-jarige seun op Bothaville. Die seun is Saterdag 7 Februarie doodgeskok ná hy na bewering aan ’n ankerdraad van ’n elektriese paal in dié dorp geraak het. 

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivierstreek, is dit na bewering reeds die tweede soortgelyke sterfte op Bothaville. ’n Bees is ook volgens gerugte onlangs op die dorp doodgeskok nadat dit aan ’n ankerpaal geraak het. Die munisipaliteit het egter dié bewerings probeer weerlê en aangevoer dat die dier gevrek het ná dit deur weerlig getref is.

Die doel van ankerpale (in Engels bekend as stay wires of guy wire) is om kragpale te stut. Hoewel ankerpale nie veronderstel is om krag te dra nie, kan verskeie foute op die struktuur veroorsaak dat dit wel kragdraend raak en derhalwe ernstige risiko’s inhou.  

“In hierdie stadium kom dit voor asof hierdie paal wel foutief is en tot verlede week se tragiese dood gelei het. Daar is duidelik ernstige probleme met Bothaville se kragnetwerk en daar moet dringend ondersoek ingestel word na die omvang daarvan om verdere lewensverliese te help voorkom. Twee mense het reeds met hul lewe geboet vir die Nala Plaaslike Munisipaliteit se nalatigheid. Dit mag nie weer gebeur nie. Daarom moet die munisipaliteit nou tot verantwoording geroep word,” verduidelik Pretorius.

Luidens ’n verslag van die Gekose Komitee oor Samewerkende Regering en Openbare Administrasie se besoek aan die munisipaliteit wat in Oktober verlede jaar vrygestel is, ondervind die Nala-munisipaliteit ernstige probleme met onder meer kragvoorsiening en infrastruktuurinstandhouding. Gereelde kragonderbrekings en ’n vertraging in die herstel van verwante foute, wat soms tot ses dae kan neem om herstel te word, is as probleme in die munisipaliteit uitgewys. Die omvang van agteruitgang in die munisipaliteit is boonop so ernstig dat die komitee aangevoer het dat dit “van mening is dat die stand van dienslewering in die Nala Plaaslike Munisipaliteit die menseregte van die gemeenskap skend […] en die strategiese doelwit van plaaslike regering met betrekking tot die voorsiening van dienslewering […] oortree”.

Soortgelyke plasings

Veiligheid