Mediumtermynbegrotingsraamwerk: Laer brandstofheffings olifant in vertrek – AfriForum
Die hele land hou asem op om te hoor of Enoch Godongwana, die minister van Finansies, môre iets gaan doen om verligting aan verbruikers te bied te midde van die hemelhoë brandstofpryse. AfriForum meen dit is noodsaaklik dat die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) hierdie kwessie takel, tesame met ander maatreëls wat ekonomiese groei sal stimuleer. Terwyl petrol en diesel in Suid-Afrika tans die duurste nog ooit is, vorder die regering steeds heffings van byna R7,50 in op elke liter brandstof wat verkoop word. Daarom is AfriForum sedert Mei vanjaar besig om druk op die Tesourie te plaas om hierdie stelsel te hervorm.
Belastinginvordering was vanaf April tot Augustus vanjaar byna 8% hoër as geprojekteer. AfriForum voer aan dat dit die fiskale ruimte bied vir belastingverligting in kritieke areas. Die organisasie wys ook daarop dat die Tesourie buitendien daarop moet fokus om vrugtelose staatsbesteding te besnoei en sodoende ruimte vir toekomstige belastingverligting te skep.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, sluit hierdie vrugtelose besteding die gereelde reddingsboeie aan disfunksionele staatsinstellings in. “Instellings soos die Suid-Afrikaanse Poskantoor en die Padongelukfonds moet dringend hervorm of gesluit word eerder as om keer op keer miljarde rande aan dié mislukkende instellings te spandeer,” verduidelik Boshoff. “Belastingbetalers verkeer tans onder soveel druk dat daar géén ruimte vir vermorsing van geld is nie.”
Nog ’n vraagstuk wat volgens AfriForum môre aandag moet geniet, is die sukses al dan nie van die gelykberegtigingstoelae aan munisipaliteite wat in Julie deur die Tesourie teruggehou is om voldoening aan wetlike vereistes te probeer afdwing. Munisipale skuld word ’n al groter risiko en dit is binne die minister se mag om strenger voldoening te vereis.
AfriForum herinner ook die minister daaraan dat die hoë belastinginvordering steeds alles uit die sakke van ’n krimpende groep betalers kom. “Elke sent wat in die staatskas land, is bloed wat uit ’n klip getap is. Dit is tyd dat die regering groter waardering toon vir die land se belastingbetalers,” sluit Boshoff af.



