Aan, af en weer aan: AfriForum bevraagteken Tshwane-metro se hantering van waterkrisis
AfriForum doen ’n beroep op Johann Mettler, stadsbestuurder van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, om duidelikheid te gee oor die teenstrydige aankondigings oor vlak 2-waterbeperkings wat ernstige vrae laat ontstaan oor die metro vermoë om die voortdurende waterkrisis te bestuur. Die metro het op 12 November beperkings aangekondig, die implementering daarvan op die oggend van 16 November uitgestel, en later daardie aand aangekondig dat dit onmiddellik weer ingestel word – sonder om die skielike veranderinge in standpunt behoorlik te verduidelik.
AfriForum het die beperkings van die begin af bevraagteken, omdat dit gelyk het asof die verantwoordelikheid vir die waterkrisis op inwoners afgeskuif word, terwyl aansienlike munisipale waterverliese onopgelos bly.
“Ons het die uitstel verwelkom omdat ons van die begin af krities gestaan het teenoor die beperkings. Dat daardie besluit egter binne ure herroep is – sonder om te verduidelik waarom – dui daarop dat die metro self sukkel om die krisis te hanteer. Hierdie soort wispelturige besluitneming boesem min vertroue in,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake.
Die metro het die beperkings aanvanklik geregverdig deur te meld dat sy verbruik in September sy permanente toewysing van Rand Water met ongeveer 34% oorskry het. Rand Water het versoek dat verbruik met ongeveer 200 miljoen liter per dag verminder word.
Die maandelikse Water Secure Gauteng-datapaneel dui egter die Tshwane-metro se totale waterverliese op 44,3% aan, wat fisiese verliese van 35% insluit wat veroorsaak word deur lekkende pype, pypbreuke en reservoirs wat oorloop. Die teiken vir fisiese verliese is minder as 15%.
AfriForum het in ’n skrywe aan Mettler ook duidelikheid versoek oor hoër tariewe, en konkrete verbintenisse om waterverliese te verminder. Die organisasie vra ook watter deel van die vermindering wat deur Rand Water versoek is, afkomstig sal wees van die herstel van lekkasies deur die munisipaliteit, eerder as van verbruikersgebruik.
“Wat sal die metro doen met enige bykomende inkomste uit hoër tariewe? Waarom behoort inwoners meer te betaal sonder ’n duidelike verbintenis om die munisipale infrastruktuur te herstel wat verantwoordelik is vir die verlies van so ’n groot deel daarvan?” vra De Vaal.
AfriForum versoek ’n reaksie binne twee werksdae.



