Brakanjan keer terug as musketier op die verhoog van AfriForum Teater
Die geliefde diere-held uit Afrikaners se kinderjare maak in Desember weer sy verskyning, dié keer op die verhoog. Brakanjan, die dapper hond wat droom om een van die koning se musketiers te word, tree vanaf 11 tot 13 Desember by AfriForum Teater in Pretoria op in ’n splinternuwe familieproduksie wat avontuur, aksie, humor en nostalgie saambring. Die vertonings was oorspronklik vir twee dae geskeduleer, maar as gevolg van publieke navraag is ’n ekstra vertoning op 13 Desember bygevoeg.
Gehore kan uitsien na ’n verhoogweergawe van Alexandre Dumas se klassieke verhaal The Three Musketeers, wat saam met die ikoniese animasiereeks vir baie Suid-Afrikaners ’n spesiale plek in hul kinderjare uitgekerf het. Brakanjan, ’n jong hond met groot drome, kom in Parys aan en beland gou tussen geheime planne, gevaarlike skurke en swaardgevegte wat die lot van die koningin kan bepaal. Om homself te bewys, moet hy saam met Athos, Aramis en Porthos teen die bose Kardinaal Richelieu en sy slinkse handlangers veg. Langs die pad ontdek hy die ware betekenis van moed, lojaliteit en vriendskap.
Brakanjan is egter veel meer as net ’n avontuurverhaal. Die produksie bevat energieke aksietonele, komiese oomblikke en hartroerende karakterinteraksies wat kinders, tieners én ouers sal vermaak. Die geliefde wêreld van die oorspronklike animasiereeks word met kleurvolle kostuums, dinamiese karakters en ’n sterk dosis humor op die verhoog tot lewe gebring, en kombineer nostalgie vir volwassenes met opwinding vir jonger gehore. Die produksie bevat boonop ook stemwerk van die oorspronklike animasiereeks.


Die rolverdeling bestaan uit ’n talentvolle ensemble akteurs. Dihan Keun vertolk die titelrol van Brakanjan, terwyl Danielle Retief die uitdagende dubbelrol van Milady en Juliette aanpak. J.W. Lombard verskyn as Kardinaal Richelieu en Rochefort, met Jayden-J Bronkhorst as Athos, Nic Beukes as die Koning, Stefan Lötter as Aramis en PG Mulder as beide Porthos en die Koningin. Wilbur Jansen van Rensburg bring sy komiese energie as Pom.
“Die talent, energie en ongelooflike span op die verhoog maak Brakanjan besonders,” sê Rowlen von Gericke, regisseur van Brakanjan.
Brakanjan word vervaardig deur Reckless Haven Productions in samewerking met die Vrystaat Kunstefees. Of jy nou saam met Brakanjan grootgeword het of die storie vir die eerste keer ontdek, die produksie nooi jou uit om weer te glo in helde, avontuur en die krag van vriendskap. Maak gereed vir swaardgevegte, lagbuie en ’n groot dosis musketier-magie!
Die besonderhede van die produksie is as volg:
Vertoning: 11 tot 13 Desember 2026
Plek: AfriForum Teater, Pretoria
Kaartjies: by www.afriforumteater.co.za beskikbaar.



