AfriForum lei nog 19 protospanlede op om kapasiteit teen misdaadbekamping te versterk
AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenheid – beter bekend as die protospan – het met 19 nuwe lede uitgebrei ná die suksesvolle voltooiing van die organisasie se 17de protospanopleidingskursus, wat vandeesweek net buite Pretoria gehou is.
Toegewyde vrywilligers van AfriForum-buurtwagte in Moreletapark, Centurion, Midvaal, Roodepoort, Germiston, Vereeniging en Krugersdorp het die kursus bygewoon. Hierdie nuwelinge vorm nou deel van die voorste linie in AfriForum se gemeenskapsgebaseerde veiligheidsnetwerk en is opgelei om vinnig en doeltreffend op hoërisiko-voorvalle te reageer.
Protospanopleiding dek streng taktiese vuurwapenhantering, bloedingsbeheer en selfverdediging. Hierdie gespesialiseerde vaardighede rus lede toe met die gereedskap wat hulle benodig om misdaad doeltreffend te bekamp, veral in hoërisikogebiede waar onmiddellike optrede die verskil kan maak.
Met hierdie inname, is die totale aantal opgeleide protospanlede in AfriForum se nasionale veiligheidsnetwerk meer as 330.
Naas hierdie gespesialiseerde opleiding, bied AfriForum ook gereelde buurtwagopleiding aan, wat fokus op belangrike onderwerpe soos wetlike raamwerke, die bewaring van misdaadtonele, die beskerming van eiendomme en die insameling van inligting.
AfriForum het tans 177 veiligheidstrukture landwyd, wat deur byna 11 000 toegewyde vrywilligers moontlik gemaak word.
“Die realiteit is dat misdadigers nie wag vir die staat om op te vang nie – misdaad gaan voort. Daarom gaan ons voort om proaktiewe burgers, wat voorbereid is om hul gemeenskappe te verdedig en te dien wanneer wetstoepassing nie kan of wil nie, op te lei en toe te rus. Hierdie 19 nuwe lede is ’n bate in die stryd om ons strate van kriminele af terug te neem,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag deur www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting te besoek.