|

Tyd dat NVG kabeldiewe vasvat wat gemeenskappe in duister laat – AfriForum

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Soundbite: Jacques Broodryk (English)

AfriForum het ’n beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedoen om beslissend op te tree en staatsaanklaers opdrag te gee om strenger vonnisse in gevalle van kabeldiefstal te eis. Die burgerregteorganisasie sê dat terwyl gemeenskappe landwyd gebuk gaan onder kragonderbrekings weens kabeldiefstal, word koperdiewe opgeskorte vonnisse of boetes opgelê en vrygelaat.

In ’n formele brief gerig aan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van Openbare Vervolging, eis AfriForum dat gevalle van kabeldiefstal met die nodige erns hanteer word. Dié soort diefstal bedreig al hoe meer die land se infrastruktuur, ekonomie en veiligheid.

Kabeldiefstal het ’n nasionale epidemie geword, veral in hoërisikogebiede soos die Kaapse provinsies waar selfoontorings, veselnetwerke en batterye vir selfoonnetwerke sistematies geplunder word. Dit laat hele gemeenskappe sonder elektrisiteit en kommunikasiemiddele.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat misdadigers kilometers se koper van Eskom, Transnet en telekommunikasietorings kan buit, terwyl die howe dit soos geringe diefstal hanteer. Dit is nie ’n geringe misdaad nie. Dit is ekonomiese sabotasie. Die mense wat die meeste daaronder ly, is gewone Suid-Afrikaners in plekke soos Port Elizabeth, die Tuinroete en die Karoo. Dít is diegene wat letterlik in die duister gelaat word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die omvang van die probleem is verbysterend. Eskom rapporteer tot R7 miljard in jaarlikse verliese as gevolg van onwettige verbindings en nie-tegniese verliese in Gauteng alleen. Selfs Transnet het meer as 3 500 voorvalle van kabeldiefstal in ’n enkele jaar aangeteken. Na raming beloop die totale koste van kabeldiefstal tot R46,5 miljard per jaar. Dit sluit verlore produktiwiteit, herstelwerk en geraamde onderbrekings aan bedrywighede by hospitale, skole en huishoudings in.

AfriForum het reeds na opleidingsgeleenthede vir gespesialiseerde burgerlike spanne begin kyk om te help met die beskerming van kritieke en noodsaaklike infrastruktuur in gebiede, soos in die Kaapse provinsies, wat soms herhaaldelik getref word sonder doeltreffende reaksie van die regering of wetstoepassers.

“As die regering weier om op te tree, moet die burgerlike samelewing ingryp. AfriForum is gerat daarvoor, maar tog lê die verantwoordelikheid steeds by die NVG en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om te verseker dat hierdie misdadigers van die strate verwyder word. Totdat dit gebeur sal infrastruktuur aanhou daaronder ly en Suid-Afrikaners voortgaan om daarvoor te betaal,” sê Broodryk.

AfriForum het ook die NVG versoek om sake van kabeldiefstal wat by kritieke of noodsaaklike infrastruktuur plaasvind, amptelik as diefstal met verswarende omstandighede te erken; staatsaanklaers opdrag te gee om vir gevangenisstraf te pleit en opgeskorte vonnisse vir gereelde oortreders teen te staan; en te pleit vir skadevergoeding as deel van vonnisse.

“Dis tyd dat die NVG ophou om kabeldiewe met syhandskoene hanteer. Daar is niks gering of onbenullig aan ’n misdaad wat hospitale sluit, mense se lewensbestaan vernietig en hele gemeenskappe lamlê nie,” sluit Broodryk af.

AfriForum is daartoe verbind om kwesbare gemeenskappe en wetstoepassingsagentskappe by te staan om kabeldiefstal teë te werk, maar ware verandering moet by die regstelsel plaasvind. Tot dan sal die burgerregteorganisasie voortgaan om terug te veg waar die regering versuim om op te tree.

Soortgelyke plasings