Alberton-tak blaas nuwe lewe in Mayberry Park
Die AfriForum-tak in Alberton het die afgelope naweek nuwe lewe in die vervalle park in Mayberry Park, geleë tussen Redwood- en Yellowwoodstraat, geblaas. Hierdie stuk grond, wat aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit behoort, word lank nie meer instandgehou nie en het in ’n bykans onbruikbare toestand verval.
Die gemeenskap, saam met lede van AfriForum se Alberton-tak, het hande gevat om hierdie ruimte in ’n veilige, skoon en toeganklike ontspanningsruimte vir kinders en families te omskep. ’n Volle vrag vullis, wat in en om die park gestrooi was, is opgetel en verwyder, alle onkruid is uitgehaal en die park se te lang gras is gesny — ’n merkwaardige verskil wat dadelik opmerklik is.


Met die brandseisoen wat voorlê, beplan AfriForum se Alberton-tak om in die komende wintermaande op verskeie parke in Mayberry Park en die omliggende gebiede te fokus, om brandgevare te beperk en gemeenskapsveiligheid te verbeter.
AfriForum het intussen ’n ernstige beroep op die munisipaliteit gedoen om sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap na te kom en groter aandag te skenk aan die instandhouding van openbare parke en ontspanningsruimtes.
“Parke is meer as net oop spasies — dit is ontmoetingsplekke vir gemeenskapslede, speelruimtes vir kinders en veilige omgewings waar gesinne kwaliteittyd saam kan spandeer. Die versuim om hierdie ruimtes te onderhou hou nie net groot risiko’s vir die algehele welstand en veiligheid van die gemeenskap in nie, maar ondermyn ook die sosiale samekoms van ons gemeenskappe,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
AfriForum moedig die munisipaliteit aan om vennootskappe met gemeenskapsorganisasies aan te gaan om volhoubare oplossings vir die onderhoud van parke en sypaadjies te vind.
’n Hartlike woord van dank gaan aan die toegewyde lede van AfriForum se Alberton-tak, die gemeenskap en Bernet Garden Services vir hul uitsonderlike bydraes. AfriForum glo dat volhoubare gemeenskapsontwikkeling begin waar mense self inspring. Hierdie projek is nóg ’n bewys van wat moontlik is wanneer burgers betrokke raak en hul omgewings self begin verbeter.
Sluit aan by AfriForum om dele te word van die beweging vir selfstandige gemeenskappe. Besoek www.wordlid.co.za of kontak die Alberton-tak by 076 329 8697 vir meer inligting.