AfriForum-protospan help Mannie die leeu naby Bela-Bela hervestig
Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Soundbite: Jacques Broodryk (English)
Ses van AfriForum se gespesialiseerde buurtwaglede in Roodepoort, beter bekend as protospanlede, het onlangs die unieke taak gehad om ’n leeu genaamd Mannie, as deel van ’n internasionale dierereddingsinisiatief, in Suid-Afrika te hervestig. Dié leeu, wat in aanhouding in Nederland gebore is en sedertdien min tot geen interaksie met ander leeus gehad het nie, is op 17 April by die Schrikkloof Privaat Natuurreservaat naby Bela-Bela hervestig. Hierdie reservaat is die tuiste van The Lions Foundation, waar Mannie en ander leeus soos hy, gerehabiliteer word.
Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê Mannie het verlede week by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe geland as deel van internasionale pogings om dié leeu uit gevangenskap te red en hom in ’n omgewing te plaas wat meer geskik is vir sy spesie.
Die finale fase van die hervestiging het behels dat Mannie van die lughawe na die toevlugsoord in Limpopo vervoer word, wat met behulp van AfriForum se Roodepoort-buurtwag se logistieke ondersteuning moontlik gemaak is. Dié ses protospanlede het deel gevorm van die konvooi wat Mannie tot by sy nuwe heenkome begelei het.
“Hierdie was ’n unieke onderneming vir ons span,” sê Broodryk. “Terwyl buurtwagte en veral protospanlede se primêre fokus gemeenskapsveiligheid is, besef AfriForum ook die waarde daarin om breër inisiatiewe te ondersteun wanneer nodig, daarom is ons lede altyd bereid om te help waar moontlik.”
Protospanne vorm deel van AfriForum se buurtwagte en bestaan uit lede wat opgelei is om uitdagende en gevaarlike situasies waarin hulle hulself kan bevind terwyl hulle hul pligte uitvoer, doeltreffend te navigeer. Dié lede ontvang uitgebreide opleiding en tot dusver is meer as 230 protospanlede opgelei, wat elkeen ’n aktiewe rol in AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture landwyd speel.
Mannie het die sowat 172 km van die lughawe tot by die toevlugsoord sonder voorval afgelê terwyl hy in die bekwame hande van onder andere ses van AfriForum se protospanlede was. Hy is sedertdien by die toevlugsoord, waar hy professionele versorging en die nodige kognitiewe en sosiale stimulasie sal ontvang.