|

AfriForum reik hand van samewerking na Bloemfontein-SAPD

AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het vandag, slegs enkele ure voor vanaand se opening van die organisasie se gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein, skriftelik ’n hand van samewerking en ondersteuning na die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Mangaung-metro uitgereik. Die burgerregteorganisasie het in die skrywe wat vanoggend aan die polisie in dié metro gestuur is, onder meer ’n vergadering met die SAPD se leierskap hier aangevra sodat potensiële gebiede van samewerking geïdentifiseer kan word en bepaal kan word hoe AfriForum se hulpbronne by bestaande misdaadvoorkomingstrategieë in die metro geïntegreer kan word.

AfriForum se aanbod om steun aan die SAPD sluit aan by die organisasie breër missie om gemeenskappe te bemagtig en wetstoepassing te ondersteun in hul mandaat om burgers te beskerm.

Die opening van AfriForum se GVS in Bloemfontein is juis daarop gemik om verdere praktiese gestalte aan dié missie te gee en bestaande veiligheidsinisiatiewe wat die AfriForum-buurtwagte in die metro aanpak, te ondersteun.

Dié nuwe sentrum is toegerus met ’n beheerkamer wat 24 uur per dag beman word, toegewyde beamptes wat insidente monitor en ’n gekoördineerde kommunikasienetwerk wat AfriForum se buurtwagte, wetstoepassingsagentskappe en rolspelers in die privaatveiligheidsbedryf met mekaar verbind. Die inisiatief is daarop gemik om gemeenskapsveiligheid en misdaadvoorkoming in dié metro te verbeter.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, het AfriForum in sy brief aan die SAPD gewys op die belangrikheid van samewerking tussen die burgerlike samelewing en wetstoepassingsagentskappe in die stryd teen misdaad. “Ons hoop om misdaadvoorkoming in samewerking met die SAPD en ander rolspelers in die veiligheidsbedryf aan te pak en deur middel van gedeelde inligting en gesamentlike optrede misdaad in die stad doeltreffend te bekamp en die reaksievermoëns op te skerp,” verduidelik Broodryk. “Ons uiteindelike doel is om ’n sterker en verenigde front teen misdaad te vorm in die belang van die gemeenskap se veiligheid,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings