AfriForum se Kempton Park-tak skop maandelikse opknapping van Zuurfontein-begraafplaas af
Die instandhouding van die Zuurfontein-begraafplaas in Kempton Park sal voortaan, danksy die ingryping van AfriForum se Kempton Park-tak en toegewyde gemeenskapslede, voortaan maandeliks aangepak word. Die ooglopende agteruitgang van dié laaste rusplek aan die Oos-Rand het dié projek genoodsaak en is daarop gemik om die netheid van die terrein te verbeter en ’n noodsaaklike bydrae tot die veiligheid van die terrein te maak.
Die eerste maandelikse skoonmaakaksie het verlede Saterdag (8 Februarie) plaasgevind waartydens gemeenskapslede en AfriForum saamgespan het om die begraafplaas se gras te sny, grafte skoon te maak en die tuine netjies te maak.
As deel van hierdie opknappingsprojek bied die Kempton Park-tak, in samewerking met die AfriForum Kempton Park-buurtwag, ook maandelikse beveiliging van die terrein sodat grafte maandeliks – op die Sondag ná die Saterdag se skoonmaakaksie – vanaf 10:00 tot 13:00 besoek kan word. Op 9 Februarie het 49 besoekers, onder die wakende oog van buurtwaglede, die begraafplaas besoek om hul geliefdes te gedenk.
Die volgende twee skoonmaakaksies vind op Saterdag 8 Maart en Saterdag 12 April plaas. Familielede en vriende kan dus die begraafplaas op Sondag 9 Maart en Sondag 13 April besoek, terwyl die AfriForum-buurtwag die terrein bewaak.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir Oos-Rand, het die toewyding en samewerking van die gemeenskap reeds ’n reusebydrae tot die netheid en veiligheid van dié plaaslike begraafplaas gemaak. “Hierdie aksie demonstreer nie net die krag van gemeenskapsbetrokkenheid nie, maar beklemtoon ook ons verbintenis tot die verbetering van openbare ruimtes en veiligheid van ons gemeenskap,” sê Ferreira.
Die Kempton Park-tak bedank alle betrokkenes vir hul entoesiasme en bydrae tot dié projek. Die Kempton Park-gemeenskap word uitgenooi om by dié en ander projekte van die tak betrokke te raak en sodoende saam te werk aan die skep van ’n netjiese en veilige Kempton Park. Kontak die tak per e-pos by kemptonpark@afriforumtak.co.za.
Klik hier om by AfriForum aan te sluit: Sluit-aan.afriforum.co.za







